Die Bybel sê: "Die Gees wat God ons gegee het... vul ons met krag en liefde en selfbeheersing." Om jou lewe te verbeter, is dit nodig om twee dinge te verander: 1) Jou denkprosesse. Gordon MacDonald sê: "Mense wat geestelik uit oefening uit is, word die slagoffers van idees en stelsels wat vernietigend vir die menslike gees is. Hulle is nie geleer hoe om te dink nie, en het dit nie vir hulself ten doel gestel om hul denke te ontwikkel nie, en dus word hulle afhanklik van ander mense se gedagtes en opinies. In plaas daarvan om idees en kwessies daadwerklik te hanteer, reduseer hulle hulself tot lewens vol reëls, voorskrifte en programme." Sodra jy dink dat jy alles weet, het jy eenvoudig ophou dink. 2) Jou verwagtinge. Hoeveel suksesvolle mense ken jy wat apaties en negatief is? Nie een nie! Geloof wakker opwinding, toewyding en energie aan - eienskappe wat jou help om sukses te behaal. As jy graag oor hierdie eienskappe wil beskik, moet jy die vlak waarop jou verwagtinge lê, verhoog en in lyn bring met God se beloftes. "Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees." (Mark 11:24 NV). Sal jy graag wil slaag waar jy in die verlede misluk het? Die mens word wat jy altyd gehoop het om te wees? Moenie begin deur anders op te tree nie; begin deur jou denke te verander. Maak dit elke dag nuut deur God se Woord. Niks wat jy doen sal so 'n groot impak kan hê nie. Sielskos: Jer. 18-21; Matt 28:16-20; Ps 69:19-36; Spr. 8:30-31
Die Bybel sê: "Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons Sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word." Ons word groot met die woorde: "As jy iets wil hê, moet jy daarvoor werk." Maar 'n sterk werksetiek kan ons denke verdraai as dit gaan oor wat God verniet vir ons wil gee. God giet altyd Sy seëninge uit, en as leë houers moet ons leer om ons harte oop te maak vir dit wat Hy ons bied. Jesus het gekom om ons van swaarkry te verlos en nie om ons uit te nooi om op 'n ander manier onder die vaandel van Christenskap swaar te kry nie. God se seëninge word uit genade gegee word en in geloof ontvang. 'n Bybelonderwyser skryf: "Ek het altyd iets probeer 'doen' en het God uit die oog verloor. Ek het probeer om myself, my gesin en omstandighede waarvan ek nie gehou het nie, te verander, en selfs om my bediening te laat groei. Maar God laat nooit toe dat ons suksesvol is sonder Hom nie... Uiteindelik het ek geleer om te bid vir dit wat ek nodig gehad het en het ek God toegelaat om dit te voorsien op Sy manier en op Sy tyd. Toe ek dit gedoen het, het ek Sy rus ervaar." Om so te kan lewe, moet jy besef hoe belangrik jy vir God is en op Sy genade staatmaak. Die waarheid is dat Hy meer as gewillig is om jou te help as jy jou onafhanklikheid laat staan. Sielskos: Jer. 4-6; Matt 27:11-26; Ps 55:12-23; Spr. 8:19-21
Hier is 'n antieke Skrifgedeelte met 'n moderne boodskap: "Toe hulle buite die dorp kom, sê Samuel vir hom: 'Gee die jong man opdrag om vooruit te loop, maar jy moet hier bly staan, want ek het 'n boodskap van God vir jou. 'Vandag werk die wêreld so dat ons met 'n vaart moet wegspring en die hele dag in vyfde rat werk tot ons omval in ons beddens in die aand. En wat is die nadeel hiervan? Ons reis saam met die Here gaan al hoe stadiger tot ons naderhand kruip, of sommer net stop. Die feit dat ons gedurig besig is, lei tot geestelike droogte. Dit kan opwindend en lonend wees om deel te wees van die gejaag, maar op die ou einde het jy min of geen tyd vir God oor nie. As dit is wat besig is om met jou te gebeur, is dit tyd dat jy sê: "Pouse! Ek weier om my geestelike lewe outomaties te leef terwyl ek betekenislose gebede prewel en deur 'n Bybel blaai wat ek nie bestudeer en waarvolgens ek nie lewe nie. Ek gaan die prys betaal wat dit vra om saam met God te wandel." Dit gaan nie maklik wees om te doen nie. Jy sal moet begin nee sê vir sekere goed en die risiko loop om mense ongelukkig te maak. Maar dis die enigste manier waarop jy gaan vrede maak met God en gaan kan hoor wat Hy vir jou sê. Niemand het gesê 'n Christen se pad is maklik nie, maar het enige iets anders in die wêreld blywende waarde of is dit so bevredigend? Sielskos: Jer. 7-9; Matt 27:27-32; Ps 38:1-12; Spr. 8:22-23
Ek hoor vanoggend hierdie oulike verhaaltjie van twee houtkappers. Een was 'n bejaarde en die ander een nog 'n jong knapie. Op 'n dag het hul besluit om 'n kompetisie te hou en te kyk wie kan die meeste bome op een dag afkap.
Die jong seun was sterk en fiks en het glad nie gerus nie. Hy het gekap dat die byle huil!
Maar die bejaarde het so elke uur vir 15 minute gerus.
Aan die einde van die dag toe die bome getel word het die bejaarde gewen met baie meer bome as die jong seun wat dit glad nie kon verstaan het nie.
Toe hul vir die bejaarde vra hoe dit moontlik is want hy het elke uur vir 15 minute gerus het hy hul geantwoord "Elke keer wat ek gerus het, het ek my byl skerp gemaak"
So werk ons lewe ook. Raak jy ook nog stil en spandeer tyd by God om jou weer "skerp" te maak vir elke dag se dagtake? Of hardloop jy net heeltyd aaneen en dink jy, jy is aan die wenkant?
Ons het nodig om meer tyd saam met God te spandeer!
n Seuntjie het buite gespeel en hy was besig om vir hom huisies te bou en paaie te maak sodat hy met sy karretjies daarop kon ry. In die proses was daar n baie groot rots wat in sy pad was, en hy het alles probeer om die rots geskuif te kry. Hy het dit getrek, hy het dit gestoot, hy het naderhand sy fietsie gaan haal en n tou daarom vasgemaak en dit so probeer wegtrek, maar alles tevergeefs. Die sweet het hom afgetap, en hy het moedeloos langs sy pa gaan sit wat onder n boom op n bank gesit het, en hierdie hele petalje aanskou het. Sy pa het hom vol liefde aangekyk en vir hom gevra: "Boetman het jy nou alles probeer?" Baie verontwaardig se hy vir sy pa: "Pappa het gesien hoe hard ek gesukkel het, ek is nou so moeg en die rots beweeg nie".
Sy pa het saggies oor sy koppie gestreel, en vir hom gese: "Maar jy het nog nie als probeer nie". Boetman het opgespring en gese: "Maar pappa het gesien hoe sukkel ek" En toe antwoord sy pa in n sagte stem, "Nee my seun, jy het nog nie alles probeer nie, want jy het my nog nie gevra nie".
Here hoe dikwels het ons hierdie vreeslike rots in ons pad, en niks wat ons doen of se beweeg dit nie, en as ons dan op n hopie neersak en ons wil huil van moedeloosheid, dan vra U so saggies: " My kind, het jy my al gevra" Ons erken vandag dat ons eers in ons eie krag probeer, en as niks wil werk nie, dan gaan ons na U toe as n laaste poging. Here, van hierdie dag af, onderneem ek om eerste by U Voete te gaan sit, dan het ek nie nodig om my eie kragte so uit te put nie.
Amen.
Twee donkies wei in die veld naby Jerusalem. Eerste donkie:" Ek kan dit nie verstaan nie , eergister het almal my toegejuig en hul klere en palmtakke op die pad gegooi sodat ek met Jesus op my rug daar oor kon loop. Maar van gister af is ek weer net mooi niks . Niemand sien my meer raak nie." Tweede donkie:" Ja dit werk maar so, sonder Jesus is jy niks in die lewe nie."
Dis onmoontlik om net na iemand te kyk en te sien hoeveel geloof hulle het. Jy kan jou geloof met 'n emmer water vergelyk; jy kom net agter hoeveel daar in is as iemand daaraan stamp. As die lewe aan jou stamp, mors jy dit waarvan jy vol is. Dalk het 'n finansiële stamp in die afgelope paar jaar gekry. Wat het uitgemors: vrees of geloof? Miskien het jy of 'n geliefde slegte nuus van die dokter ontvang en julle moet vir toetse gaan. Verwag julle die ergste of vertrou julle God vir die beste uitkoms? Mense kan nie na jou kyk en sien hoeveel geloof jy het nie, maar hulle kan dit hoor deur na jou te luister. Daar gaan stampe en stote in die lewe wees. Jy sal getoets word. Die doel van die toets is nie net om jou geloof te openbaar nie, maar om dit te verfyn. God toets nie jou geloof om te sien hoeveel jy het nie; Hy weet dit mos. Nee, Hy toets jou geloof sodat jy kan weet - en kan begin om dit te versterk. Dink na oor die moeilikste kwessie in jou lewe op die oomblik en vra jouself af: "Laat hierdie situasie my geloof groei of krimp?" Die Bybel sê: "Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word... Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word." (1 Petrus 1:7 NLV). Sielskos: Hos 11-14; Matt 26:57-75; Ps 13; Spr. 8:14-16
Jesus het skynheiligheid afgekeur. Toe Hy oor die godsdienstige leiers van Sy tyd gepraat het, het Hy gesê: "Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, naamlik hulle skynheiligheid. Die tyd kom dat alles openbaar sal word... Wat julle ook in die donker gesê het, dit sal in die lig gehoor word, en wat julle agter geslote deure gefluister het, dit sal van die dakke af geskree word vir almal om te hoor!" (Lukas 12:1-3 NLV). Hoekom was Jesus so skerp teenoor die skynheiliges? Skynheiligheid beskuldig ander van dinge wat ons onsself verskoon, dit sê een ding maar doen 'n ander, dit plaas gewildheid bo beginsels, en dit is gek oor bewondering maar het geen integriteit nie. Een voorbeeld is Petrus. Hy het gepreek dat almal gelyk is in Christus, maar hy het dit selektief uitgeleef. Paulus het hom daaroor gekonfronteer. Toe Petrus egter na Antiogië gekom het, het ek hom openlik teengestaan omdat hy verkeerd was. Voordat daar mense van Jakobus af gekom het, het hy saam met die nie-Jode geëet. Maar nadat hulle gekom het, het hy hom onttrek en hom tydens etes eenkant gehou omdat hy bang was vir wat die Joodse Christene sou sê. Daarop het die ander Joodse Christene hom gevolg en selfs Barnabas het hom deur hulle skynheiligheid laat saamsleep. Toe ek egter sien dat hulle optrede nie strook met die waarheid van die Goeie Nuus nie, het ek voor almal vir Petrus gesê..." (Galasiërs 2:11-14 NLV). God verstaan ons swakhede en Hy sal saam met ons werk daaraan, maar Hy sal nie skynheiligheid duld nie. Wees dus opreg! Sielskos: Eks 12:1-14; 1 Kor. 11:23-29; Ps 69:7-21; Deut. 21:22-23
Hier is 'n sleutel oor seën uit die Skrif: "Gelukkig is die mens wat nie loop volgens die raad van goddeloses... nie. Hy vind egter vreugde in die gebooie van die Here en oordink Sy voorskrifte dag en nag. Hy is soos 'n boom geplant langs waterstrome, wat vrugte dra op die regte tyd... in alles wat hy doen, is hy voorspoedig." (Psalms 1:1-3 NLV). 'n Geseënde man of vrou is geneig om uit te staan, omdat sulke mense 'n dieper karakter het, hul gees sagter is, hul moed groter is, hul leierskap beter is, hulle belange wyer is, hul deernis meer opreg is, en hul oortuigings meer tasbaar is. Hulle het vreugde ten spyte van moeilike omstandighede en toon wysheid wat baie meer is as hul jare. Hulle is ook vol verrassings: 'n mens dink jy kan 'n etiket om hul nekke hang en dan doen hulle iets onvoorspelbaar. Met verloop van tyd besef jy dat jy hulle idees en optrede kan vertrou. Hoekom? Hulle het 'n geestelike wortelstelsel wat afgroei na strome lewende water. As gevolg hiervan, is alles waaraan hulle raak voorspoedig. Jy kan ook so lewe. Hoe? Deur jou geestelike prioriteite ononderhandelbaar te maak. Die aartsvyand van geestelike groei is om heeltyd besig te wees, wat baie naby is aan iets wat die Bybel 'wêreldsheid' noem - 'n mens raak so betrokke by die samelewing se agenda dat jy jou reis saam met God afskeep. Hoe jy ook al daarna kyk, 'n sleutelbestanddeel van voorspoed is tyd. Nie oorskiettyd of weggooityd nie, maar kwaliteittyd. Tyd vir gebed; tyd vir kommunikasie. Rustige, ononderbroke tyd saam met God. Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29
Ek het Hom nodig. So hier is my antwoord. Ek glo in God, want partykeer is die węreld so "awesome" en dinge werk so goed uit dat my siel uitroep vir iemand om voor dankie te sę. Dan is dit Hy! Ek glo in God, want soms is die berge en die sonsondergang en die wolke en die maan so mooi dat ek iemand nodig het om te prys. Iemand moes dit gemaak het. Dis Hy! Ek glo in God, want partykeer gebeur goed wat so onbeplan is en so seer maak En Dan voel dit of niemand verstaan nie, maar Dan onthou ek die spykers in Sy hande en die Man aan die kruis. Dan weet ek Iemand huil saam met my. Dis Hy! Ek glo in God, want partykeer is ek so deurmekaar en die lewe so sinneloos en my drome lyk onbereikbaar en Dan het ek iemand nodig om saam met my die pad te stap en rigting te wys. Dan is Hy daar! Ek glo in God, want partykeer is ek so dom en ek doen sulke "stupid" goed en Sonde mors my hart en my lewe so op en maak ander so seer En Dan het ek nodig dat Iemand vrede en wysheid bring Dan is Hy daar! Hy maak heel wat ek self verbrou het! Hy bring genade selfs in seer wat ekself veroorsaak het! Ek glo in God, want partykeer weet ek niks. Ek het leiding en wysheid nodig in 'n deurmekaar węreld wat ek nie verstaan nie. En Dan skryf Hy vir my in die Bybel en ek lees Sy Woord en hoor Sy stem en dinge maak weer sin! Ek glo in God, in Jesus, in sy Gees, want Hy's daar! Heeltyd! Altyd! In alles waardeur ek gaan en maak nie saak hoeveel keer ek dieselfde fout maak nie. Hy is daar! Ek glo in God, want ek sien nie kans om ooit alleen te wees of enigiets alleen te doen nie.
|