Een van die algemene opvattings regoor die wêreld is die idee dat daar ‘n doel met alles is. O ja, en dat ons eendag sal verstaan. Terloops, hierdie is nie ‘n Christelike idee nie. Reeds in die 7de eeu voor Christus het Homeros sulke sienings ontwikkel (en selfs twee godinne genaamd Tuge en Moira geskep wat agter alle ‘toevallighede’ staan). Die idee dat alles met ‘n doel gebeur, word vandag wyd en syd in New Age kringe verkondig en ook in vele ander godsdienste geglo. In Christelike kringe word Romeine 8:28 graag aangehaal waar Paulus skryf dat alles ten goed meewerk vir gelowiges. Tog bedoel hy hier dat diegene wat nie weet hoe om te bid nie, mag weet dat die Gees in sulke tye vir hulle by God intree (8:26-27) wat weer sy nabyheid en troos sal laat seëvier in hulle lewens (8:31-39). Die regte feite is:
§ God maak nie menslike robotte nie. As alles met ‘n doel sou gebeur, beteken dit per implikasie dat ons robotte is sonder enige keuses. Dan is ons die gevolg van ‘n voorafvervaardigde hemelse DVD wat afspeel in die hemel. Dan help dit nie om te bid nie, want alles is reeds vooruit bepaal, selfs ons sondes. So openbaar God Homself egter nie in die Bybel nie. Hy kan juis in Jeremia 18 vir sy volk sê Hy is nog besig om planne oor hulle te maak, Ander kere weer kan Hy afsien van sekere planne as mense hulle bekeer (Jona 3-4). § God is die God van verhoudings. Sy een en enigste wil is Jesus Christus (Johannes 6:38-40). God se een wil vir elkeen op aarde is dat ons, met ons unieke gawes, aanlegte en talente, glo in Christus. Sy wil vir elkeen in Christus is ‘n heilige lewe (1 Tess 4:3), vrygewigheid (2 Kor 8:1-5), vreugde (1 Tess 5:18) en die dra van teenstand ter wille van Christus (1 Pet 3:17). § Die skuld vir slegte dinge pas vierkantig op ons eie skouers (Jakobus 4:1-10). Sonde is om teen ‘n lewende verhouding met Christus te kies. In sulke tye kan niemand wat verkeerd gekies het wegkom met die verskoning: “Wat moet gebeur, sal gebeur nie.” § Alle goeie dinge kom van God af (Jakobus 1:16-18). Alles wat geloof-skeppend en opbouend is, is God. Alles wat sleg is, en wat dood en vernietiging bring, is onsself. Ons dien ‘n lewende God. Ons troos is nie dat ons later sal verstaan (asof God ons sulke antwoorde skuld nie), of dat alles met ‘n rede gebeur nie. Ons enigste troos is ons verhouding met Christus. Niks kan ons van Hom skei nie. Niks kan ons uit sy hand ruk nie. Niks of niemand kan ons liefde vir Christus uit ons harte steel nie. Hy is ons enigste enigste antwoord, ons enigste rede om te lewe. Hy is ons enigste bestaansdoel. Eers wanneer ons regtig die grootheid en grootsheid van Christus begryp, sal ons ophou om foutiewe clichés te gebruik asof dit Bybelse beginsels is. Maatskappye gebruik kort spreuke (in Engels: “tag lines” of “one liners”) in advertensies en op hulle briefhoofde. Sulke een-sin stellings help om dit waarvoor hulle staan kortliks saam te vat. Party godsdienstige se een-sin waarhede oor God is: “Daar’s ‘n doel met alles.” Of: “Wat moet gebeur, sal gebeur.” Die Nuwe Testament gebruik egter nooit sulke een-lyners nie. Hoekom nie? Wel, omdat dit nie algemene Bybelse waarhede is nie. As jy wel na Bybelse een-lyn waarhede soek, dan hoef jy niks verder as Filippense 1:21 te blaai nie: “Vir my is om te lewe Christus en die sterwe wins.” Die Nuwe Testament verskuif die doel van die ganse lewe na Christus. Alles wat met ons gebeur, word vanuit die verhouding met Hom beskou. Ons lewens is saam met Hom veilig in God (Kol 3:3). Christus is by ons as ons lag en as ons huil. Hy is Heer as ons arm is en as ons ryk is. Hy is die antwoord as ons geen vrae het nie, maar ook as ons nie weet hoe vorentoe nie. Christus is ons enigste troos en hoop. Uit hierdie perspektief skryf Paulus in Romeine 8:28 dat alles wat in ons lewens gebeur ten goede meewerk. Wag, hierdie woorde is nie ’n een-lyner wat ons onthef van ons eie verantwoordelikheid nie. Paulus vertel in Romeine 8 dat hierdie lewe is so hard dat selfs God se skepping en sy kerk sug (vers 23). Maar dan tree die Gees tussenbeide deur ons diepste nood en biddeloosheid na God se troon te neem. Daar sug Hy namens ons in hemelse taal (vers 26). Hierna volg die wonderwerk: wanneer die Heilige Gees vir sy geliefdes bid, gryp God direk in. Hy laat sy redende wil van sy kant af gebeur in lydende gelowiges se lewe. Hy sorg aktief dat alles ten goede begin gebeur om Jesus opnuut in ons lewe sigbaar te maak. Hoor weer: dit wat vir God goed is in terme van sy reddingsplanne gebeur dan. Hy voer sy goeie plan deur om ons te vorm na die beeld van sy Seun (vers 29). Hy sorg dat alles ten goede meewerk deurdat ons sy roepstem duideliker begin hoor, sy vryspraak aktief beleef en met heerlikheid beklee word (vers 30). As Paulus skryf alles werk ten goede mee, dan bedoel Hy dit vanuit God se perspektief. Niks sal ooit in Sy pad staan om sy geliefdes, sy uitverkore kinders, te verander en nuut te maak om Christus se beeld te weerkaats nie. Sodra ons leer om vanuit Christus se perspektief na die lewe te kyk, verander ons een-lyners dramaties. Dan is ons eie swaarkry nie langer geleenthede om al daardie fatalistiese “one-liners” te gebruik nie, maar om te bely: “Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie” (Rom 8:39). Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|