Tom Peters skryf iewers: “Celebrate what you want to see more of.” Toe dink ek dadelik aan al die feesdae wat Moses vir Israel ingestel het om hulle te herinner aan God se groot reddingsdade. Hulle feeste moes die normale roetine van werk deurbreek. Alles moes dan tot stilstand kom. Feestye is vroeg reeds diep in Israel se geheue ingeskryf as spesiale tye in die Here se teenwoordigheid.
Die vroeë kerk het hierdie ritme van feesviering voortgesit deur gereeld saam te eet in die teenwoordigheid van Christus as hulle Eregas. Hulle het sy dood en opstanding gereeld saam gevier tydens hulle liefdesmaaltye (Judas 12), of die ete van die Here (1 Korintiërs 11:20). Van huis tot huis het hulle koningskos geëet deur saam brood te breek (Handelinge 2:46-47). Lukas vertel vir ons hulle het dit in eenvoud en opregtheid gedoen. Die manier hoe die eerste Christene saam feesgevier het, het hulle geloof magneties en aantreklik gemaak. Hulle getuienis was geleë in die maniere hoe hulle vreugdevol saam met die Here en mekaar gekuier en geleef het.
Te midde van die treurmares van swaarkry, hooploosheid en armoede hier in ons eie dag, word die Here se mense opnuut genooi na ‘n spesiale fees. Jy ook. Dit is ‘n fees saam met Jesus. Hy is die Een aan wie alle mag in hemel en op aarde behoort. Hy het vir ons ‘n ewige feesmaal aangelê in sy Vader se huis. Maar hier en nou wil Hy brood breek saam met ons. Hy kan nie wag vir eendag nie. Trek asseblief jou feesklere aan. Gooi reukolie op jou hare. Nooi jou vriende en familie. Wink die armes, kreupeles, lammes en blindes van Lukas 14 nader. Dek die tafel. Kom sit aan saam met die Koning!