Om jou droom te vervul, behoort jy te weet hoe om dit ook met ander te deel. En om dit na behore te doen, moet jy op vier maniere met hulle te kan skakel. Eerstens moet jy logiesgewys met hulle skakel. Dit wat mense nie glo nie, aanvaar hulle nie. So, jou eerste stap is om geloofwaardig te wees. Doen jy dit nie, sal jy beswaarlik kan voortgaan. Hoe doen mens dit? Deur 'n realistiese verstandhouding van die situasie soos dit vandag is te kommunikeer. Elke keer as jy jou visie deel, is een van die eerste dinge wat mense sal vra: 'Maar wat van...?' Al sou hulle dit nie hardop sê, sal hul dit vir hulself vra. En hulle sal aanhou vra totdat jy al hul kwessies aangespreek het. Dit verg dat jy baie deeglik is met die oordra van jou droom en nie net klem lê op die positiewe voordele ten uitsluiting van die uitdagings nie. Tweedens, jy moet 'n deeglike strategie voorhou waarin hulle kan glo. As 'n droom te groot en onbereikbaar lyk, gaan mense moedeloos raak en gou belangstelling verloor. Sodra groot drome in kleiner dele opgebreek word en die verskillende dele aan talentvolle individue gegee word, lyk die taak meer bereikbaar en elke mens wat betrokke is kry 'n groeiende gevoel van persoonlike eienaarskap en betrokkenheid. Dis 'n ware kuns om dit alles doeltreffend te kommunikeer sonder om in detail verstrengel te raak en mense te verveel. Jy moet genoeg inligting oordra om die meeste mense tevrede te stel, maar nie soveel dat jy hulle verloor nie. Dit alles verg vaardigheid, oefening en God se hulp. Maar om jou droom te deel, moet jy leer om dit te doen.
Sielskos: Jer 22-24; Markus 2:1-12 Ek het vanoggend vroeg wakker geword, opgewonde oor alles wat ek kan doen voor die horlosie middernag slaan. Ek het pligte om na te kom vandag. Ek is belangrik. My werk is om te kies watter soort dag ek gaan hê.
Vandag kan ek kla omdat die weer reënerig is, of .... ek kan dankbaar wees dat die gras gratis water kry. Vandag kan ek hartseer wees omdat ek nie meer geld het nie, of .... ek kan bly wees dat my finansies my aanmoedig om my inkopies verstandig te beplan en my weg van vermorsing hou. Vandag kan ek oor my gesondheid kla of .... ek kan verheug wees omdat ek lewe. Vandag kan ek mor oor alles wat my ouers my nie kon gee terwyl ek grootgeword het nie, of .... ek kan dankbaar wees dat hulle my toegelaat het om gebore te word. Vandag kan ek treur omdat rose dorings het, of .... ek kan juig omdat dorings rose het. Vandag kan ek rou oor my gebrek aan vriende, of .... ek kan opgewonde ‘n soektog begin na nuwe vriendskappe. Vandag kan ek kla omdat ek moet gaan werk, of .... ek kan juig omdat ek werk het om te doen. Vandag kan ek murmureer omdat ek huis moet hou, of .... ek kan geëerd voel omdat die Here skuiling aan my verstand, liggaam en siel geskenk het. Vandag lê voor my en wag om gevorm te word. En hier is ek, die beeldhouer wat die vorming mag doen. Hoe vandag sal wees hang van my af. Ek kan kies hoe ‘n dag ek sal hê! ‘n Wonderlike dag aan jou - behalwe as jy ander planne het .... Psalm 118:24 - Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. Vooroordeel is die produk van 'n lui brein. Dis minagting sonder ondersoek. Jou eerste indrukke van iemand is onvolledig en dikwels onakkuraat. Moenie aanvaar jou intuïsie is altyd reg nie. Moenie blywende besluite maak gebaseer op beperkte insigte nie. Jou sukses in die lewe sal nadelig beïnvloed word deur vooroordeel, deur vrees of enige vorm van diskriminasie wat jou denke kan bederf. Jesus het nooit iemand se waarde bepaal op grond van hul ras, geslag, finansiële posisie of voorkoms nie. Hy was gemaklik in die teenwoordigheid van vissermanne en tollenaars. Hy was op sy gemak met ryk en arm. Hy het geweet elke mens wat Hy teëkom, het potensiaal en Hy het nooit op hulle neergesien as gevolg van hul verlede nie. Gebore uit 'n moeder wat 'n maagd was, het Hy geweet wat dit beteken om 'n twyfelagtige agtergrond te hê en die onderwerp van skindertonge te wees. Maar Hy het bo dit uitgestyg. Hy het die tradisie verbreek. Die Samaritane is as 'n laer klas mense beskou met wie die Jode nie durf praat het nie. Maar Jesus het. Inderdaad het Hy uit Sy pad gegaan om 'n Samaritaanse vrou te ontmoet wat vyf keer geskei was, en die verborgenhede van aanbidding met haar bespreek, wat haar lewe verander het. Toe Petrus, wat met vooroordeel geworstel het, gevra is om die evangelie aan die eerste groep heidene te verkondig, moes hy erken: 'Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie.' Op daardie dag het God werk gemaak van sommige van Petrus se diep-gesetelde vooroordele. Hy kan ook van joune werk maak! As 'God die wêreld so lief gehad het', maar jy het nie, hoe kan jy daarop aanspraak maak om 'goddelik' te wees?
Sielskos: Hosea 11-14; Matt 27:27-32; Ps 25:8-15; Spr 10:1 Dit maak nie saak hoe geestelik sterk jy geword het nie, jy sal nooit versoeking kan ontgroei nie. Sodra jy dit op een front oorwin het, val dit jou op 'n ander kant aan. En hoe nader jy aan God kom, hoe meer sal die Satan jou probeer verlei. Paulus het dit as volg verduidelik: 'Want die slegte dinge binne-in jul harte wil altyd iets anders hê as wat die Heilige Gees wil hê...Hulle is altyd teen mekaar...' (Galasiërs 5:17 BVA). So, wat is die antwoord? Daar is twee maniere waarop jy versoeking kan oorkom: Eerstens, wees eerlik daaromtrent. Vra jouself af: 'Wanneer kom ek die meeste in versoeking?' Gewoonlik is ons die mees kwesbare wanneer ons stres beleef: wanneer ons seer het, kwaad, bekommerd, alleen, verveeld of moeg is, of na 'n groot sukses of geestelike hoogtepunt. Leer om jou patrone te identifiseer: 'Opregte mense vermy die kwaad op hul lewensweg' (Spreuke 16:17 NV). Tweedens reik uit na God se hulp. 'Roep My aan in die dag van benoudheid. Ek sal jou help...' (Psalm 50:15 NV). So, waarom roep ons nie meer dikwels tot God nie? Want soms wil ons net doen wat ons wil doen, of hoe? Of ons is skaam omdat ons toegee aan versoekings. Moenie mismoedig raak nie; God sal nie opgee nie. Sy Woord sê: 'Daarom moet ons nie bang wees om tot God te bid nie, God wat op Sy troon sit. Ons moet na Hom toe gaan sodat Hy... vir ons...genadig kan wees... en... Hy vir ons kan help wanneer ons Hom nodig het' (Hebreërs 4:16 BVA). As jy elke uur van elke dag om God se hulp moet uitroep, sal Hy daar wees vir jou! Net soos 'n boom se wortels dieper groei as die storms opsteek, word jy ook telkens sterker as jy 'n versoeking weerstaan.
Sielskos: Hosea 1-5; Matt 27:1-10; Ps 32; Spr 9:10-16 Wat is "die skaduwee van die Almagtige"? In die woestyn, waar Israel vir veertig jaar rondgedwaal het, kon temperature tot tussen 49 en 55 grade Celsius styg. Daar was geen skaduwee nie, behalwe dit wat verskaf is deur die tente waarin die mense geleef het. Hulle het dus die kragtige metafoor, "in die skaduwee van die Almagtige", verstaan. As jy in die woestyn verdwaal het, moes die kinders van Israel volgens die wet van gasvryheid vir jou kos en water gee, beskerm teen die vyand en skaduwee teen die versengende son gee. Dit het so gewerk: Eerstens moes jy die Opperherder se naam uitvind. Dan moes jy die koord van sy tent vashou en om hulp roep. As jy dit gedoen het, het die wet van gasvryheid hom verplig om jou in die veiligheid van sy tent in te neem. Dieselfde wet het ook gesê dat hy jou met sy eie lewe moes beskerm. God se naam, El Shaddai, beskryf twee wonderlike aspekte van Sy karakter. "El" dui op Sy mag en krag. "Shaddai" beteken letterlik "die een met die sterk bors", wat verwys na die teerheid van 'n borsvoedende ma. Sommige dae moet jy na God gaan vir die krag wat nodig is om die vyand se aanval te weerstaan; ander dae is dit net nodig om na Hom toe te gaan dat Hy jou in Sy arms kan hou en vertroos. As dinge te "warm" word vir jou, hardloop na "die skaduwee van die Almagtige".
Sielskos: Eseg. 5-9; Matt 21:12-17; Ps 119:169-176; Spr. 19:9-10 ¨Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in my glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as ´n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word¨"
Die krappies het by hul Sondagskoolonderwyser geleer dat hulle nie sywaarts mag loop nie, maar vorentoe - soos dit ´n opregte krap betaam. Hy het hulle laat oefen - pootjie vir pootjie. Aan die einde van die les kon elkeen darem so ´n paar treetjies vorentoe loop. Hulle huiswerk was: ¨Oefen nou elke dag ´n paar minute en dan kyk ek of julle dit volgende week kan regkry.¨ Dié Sondag het aangebreek. ¨Nou toe, loop nou mooi dat ek kan sien.¨ Tot die Krap-kategeet se teleurstelling hardloop die hele klas sywaarts! ¨Ag nee, kinders, hoekom hardloop julle nou weer só?¨ was sy ontnugterde uitroep. ¨Meneer,¨ antwoord enetjie, ¨by ons huise loop ons mammas en pappas so.¨ Jy lag nou vir hierdie verhaaltjie was Ian Webber op ´n huwelikseminaar vertel het, Maar hoe waar is dit nie! Jou kinders drink al jou woorde in - veral die wat per ongeluk uitgeglip het. Hulle asem agter jou woorde ook jou houding en emosies in. Hulle neem selfs jou skynheiligheid waar en oefen dit op mekaar uit! Jy dink soms dat jy een outjie goed om die bos gelei het met ´n slenter wat volgens jou mening gewerk het. Môre gebruik dié kind dit weer op ´n jonger outjie, en dan kom jy eers agter dat hy dwarsdeur jou planne gesien het. Moenie ´n kind kul en dink dat jy daarmee gaan wegkom nie. Hulle is baie fyn. En as Ma raas oor ´n kind se kru taalgebruik, sê die sussie sommer baie maklik: ¨Ja, maar Pappa doen dit dan!¨ Onthou die woorde van Paulus: ¨Wees baie versigtig hoe julle lewe¨ (Ef. 5:15). GEBED: Heilige Gees, plaas ´n wag voor my mond, en twee van hulle voor my voete. Laat wat ek dink en wat ek doen, welbehaaglik wees voor U. In J e s u s se Naam. men. (Uit: VASTRAPPLEKKIES. Theo Brink. Boodskapperreeks. AKTUAPERS. Pretoria. 1989.) Jesus het gesê: "Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word." Pyn is die prys wat ons vir liefde betaal. 'n Outeur het geskryf: "As ons baie seer het, wonder ons: 'Hoekom het dit gebeur? Was dit om die wat moet aangaan se geloof te versterk?' Dis moeilik om 'ja' te antwoord as alles donker lyk. Die belangrikste ding vir ons op daardie oomblik is om nie die pyn te voel nie, maar as ons deur die pyn in ons lewens beweeg eerder as om dit te probeer vermy, sal ons anders daaroor voel. Ons leer daaruit. Net soos Josef, kan ons sien hoe God dit vir 'n groter doel gebruik. Op die ou einde beteken die rouproses dat ons die seer hanteer saam met die enigste Een wat ons kan genees." Die Bybel sê: "...ons het deur die nag gehuil. Maar vanmôre lag ons van vreugde." (Psalm 30:6 DB). Jou oggend sal kom; God het dit belowe! Jou pyn sal beter word met verloop van tyd. Jy sal ook nie vergeet nie; jy sal net anders onthou - met meer dankbaarheid en minder pyn. Hierdie saligspreking beantwoord twee vrae: 1) Wat gebeur met hulle wat in God sterf? "... In die huis van my Vader is daar baie woonplek... Ek gaan om vir julle plek gereed te maak... sodat julle ook kan wees waar Ek is." (Joh. 14:1-3 NV). 2) Wat van die van ons wat moet aangaan met die lewe? "... die God wat in elke omstandigheid moed gee... bemoedig... ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig..." (2 Kor. 1:3-4 NV).
Sielskos: 1 Tess 1-5; Matt 3:11-17; Ps 90:1-6; Spr. 1:1-4 In ons harde wêreld word sagmoedigheid dikwels vir swakheid aangesien. Maar Jesus se definisie van sagmoedigheid is die van 'n kragtige, groot hings wat ingebreek is. Hy het nie sy stamina verloor nie. Waar hy eers 'n sterk wil van sy eie gehad het, gee hy nou net toe aan iemand anders se wil. Sagmoedigheid behels die volgende: 1) Sensitiwiteit vir God. In 'n goeie huwelik verstaan twee mense dikwels mekaar se behoeftes sonder om 'n woord te sê. Die tyd wat hulle saam deurgebring het, maak hulle bewus van die dinge wat die ander een verryk, asook aanstoot gee, en hul toewyding aan mekaar maak hul huwelik hul belangrikste prioriteit. Dit is dieselfde met jou verhouding met God. 2) Gee oor aan God se wil. Die sleutel tot die verbreking van hardnekkige gewoontes is om dit nie in jou eie krag te doen nie. Dit hou net jou fokus op die probleem en versterk die krag daarvan. Die sleutel tot oorwinning is om jou fokus te verander en jou probleme en bekommernisse oomblik vir oomblik oor te gee aan God. "Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God..." (2 Korintiërs 3:5 NV). 3) Oorgawe aan God se doelwitte. Om te verstaan wat die verskil tussen oorgawe en selfsug is, moet jy hieroor nadink: "Hulle kom en luister ewe vroom na jou prediking, maar hulle doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Met hulle monde bely hulle liefde, maar hulle harte is net agter geld aan." (Esegiël 33:31 NLV). Dink 'n bietjie daaroor. Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 4:1-11; Ps 90:7-17; Spr. 1:5-9 Hierdie saligspreking korrigeer twee foute wat ons oor verlossing maak. Dat dit net daaroor gaan om te glo, en dat dit net gaan oor ons optrede. Dit gaan eintlik oor al twee hierdie aspekte. Die hergeboorte behels die volgende: 1) 'n Posisie van verlossing. As jy al jou goeie werke opmekaar stapel tot dit so hoog soos 'n berg is, sal jy steeds nie kan betaal om in die hemel in te gaan nie. Dis waar vir die tyd voor jy 'n Christen was en ook nadat jy een geword het. As jy die fliek The passion of the Christ gesien het en gedink het: "Hoekom moes Hy so 'n dood sterwe?", lê die antwoord hierin: "Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees." (2 Korintiërs 5:21 NV). Die oomblik as jy Jesus as jou Verlosser aanvaar, sien God jou as 'n 'verloste'. 2) 'n Toestand van verlossing. Verlossing is nie net 'n posisie wat jy voor God het nie, maar 'n toestand wat jy elke dag voor ander uitleef. Hoe doen jy dit? Deur God meer te vertrou as jouself (Spreuke 3:5) en deur te probeer om die karaktereienskappe van Christus te toon: "... liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing." (Galasiërs 5:22-23 NV). Jy sê: "Maar dis te veel! "Ja, maar ons hoef dit nie alleen reg te kry nie: "Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word... Dit doen die Here wat die Gees is." (2 Korintiërs 3:18 NV). Sielskos: Lev 1-4; Matt 4:12-25; Ps 10:1-11; Spr. 1:10-16 Daar word 'n storie vertel oor twee ouens wat oor godsdiens gestry het. Een van hulle het uiteindelik geskreeu: "Nou maar dien jy dan God op jou manier en dan dien ek Hom op Sy manier!" As ons, ons menings 'n voorvereiste maak om mekaar lief te hê, word ons uiteindelik vervreem van mekaar. Die meeste van die goed waaroor ons baklei, maak nie regtig saak nie. Jesus het gesê: "As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is." (Johannes 13:35 NV). Dis nie genoeg om van vrede te hou nie; jy moet 'n vredemaker wees. Toe daar 'n stryery in die Nuwe-Testamentiese kerk uitgebreek het oor die eet van sekere kos, het Paulus tussenbeide getree: "Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot 'n val kan bring nie. Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek... dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou - vir hom is dit dan onrein. As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie... Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee... Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder... Laat jou oortuiging hieroor 'n saak tussen jou en God wees..."(Romeine 14:13-22 NV). Gaan wees 'n vredemaker! Sielskos: Lev 8-10; Matt 5:13-26; Ps 42:1-5; Spr. 1:20-23 ‘n Ou spoorwegman het op ‘n byeenkoms tot bekering gekom,, en is gevra om te bid. Hy het ‘n oomblik geaarsel, en toe eerbiedig met ‘n bewende maar helder stem gesê:
“O, Here, noudat ek die vlag gestryk het, bid ek U, neem my voete van die ruwe spoorbaan af en plaas hulle veilig bo-op die trein van redding. Laat wysheid my handlamp wees en die Bybel my hooflig. Laat die trein gekoppel wees met die sterk skakel van liefde. En, Hemelse Vader, hou alle wissels gesluit wat na sylyne uitdraai, en veral die wat lei na ‘n doodloopspoor. O, Here, as dit U wil is, laat elke sinjaal langs die lyne die witlig van hoop vertoon sodat ek die lewensreis kan aflê sonder om stil te hou. En, Here, laat die tien gebooie my rooster wees. En wanneer ek die reis volgens roostertyd afgelê het en in die groot donker stasie van die dood ingetrek het, mag die Superintendent van die heelal sê: “Mooi so, goeie en getroue dienaar, kom teken die betaalstaat en ontvang jou loon van ewige geluksaligheid.” Ps.112:4 Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis: genadig en barmhartig en regverdig.
Is daar dalk 'n area in jou lewe, wat vandag lig benodig? Miskien is jy in 'n nagdonker situasie en jy het nie die vaagste benul, waar voor of agter is nie. Scubaduikers sê vir my, as jy in 'n stikdonker watergat afduik, weet jy glad nie watter kant bo is nie. Die enigste manier om jou posisie vas te stel, is om lug uit te blaas en die borrels dop te hou, hulle sal altyd boontoe trek. Het jy lig nodig? God se Woord leer, 'Vir die opregtes gaan Hy op as 'n lig in die duisternis'. Die Psalmis sê, U woord is 'n lig op my pad en 'n lamp vir my voete. Hoe kry ek Sy lig angeskakel in my donker lewe? Lees die Woord, bestudeer dit en 'eet' dit daagliks. Vra die Heilige Gees om jou pad te verlig en in elke donker hoekie van jou hart, die lig van die waarheid te laat skyn. Ek wil jou bemoedig met, Jes.60:1 "Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op. 2 Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word". Soos 'n helder verligte aanloopbaan, sal jou pad uitgestippel wees. Gebed. Baie dankie Vader, in U lig sien ek die lig. Verlig my hele lewe, sodat ek weer 'n lig vir andere kan wees, in Jesus naam. Amen Seuntjie sit in wiskunde klas en skryf:
2+10 = Jesus 8+5 = Jesus... Meneer roep seuntjie nader en vra hom hoekom is al sy antwoorde "Jesus"? Hy se toe: "Meneel, ons was Sondag inni kelk en toe se die Oom da vool.... Jesus is die antwoold tot al jou vlae." |
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|