Die kwessie van geloof is ietwat van ʼn kontroversie wat uit verskillende hoeke uit belig word en waar mense met verskillende beskouings oor geloof kom. Selfs in die Bybel word geloof op verskeie maniere uiteengesit.
Abram word uit die niet uit met geloof in die Onsienlike, die tot nog toe ʼn Onbekende God, gekonfronteer. Die gevolg? Hy pak sy goed en trek agter die stem van God aan. Vir ander is dit nie so maklik nie.
Sommige beleef hoogspanning tussen geloof en ongeloof terwyl ander die gawe van ʼn kinderlike geloof oënskynlik sonder moeite ontvang. Dit lyk asof sommige ʼn oormaat geloof as gawe ontvang terwyl ander deur Paulus gemaan word “om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.” Romeine 12:3. In 1 Korintiërs 12:9 is dit duidelik dat geloof as ʼn geestelike gawe deur die Gees aan sommige uitgedeel word: ...aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ʼn ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees.
Geloof is dus nie iets wat ons hoef te doen of self te ontwikkel nie, maar wat as ʼn gawe van God kom.
Om eg te glo is nie ʼn “walk in the park” nie. Nog minder is dit ʼn goed uitgewerkte resep vir ʼn gelukkige lewe. Dis nie ʼn roetekaart vol padpredikante wat vir jou die rigting en afstand na jou bestemming presies aandui nie. Dis nie ʼn leuenverklikker wat vir jou die waarheid en die leuen op swart en wit uitklaar nie. Geloof is uiteindelik ʼn dialoog tussen God en sy skepsel wat ruimte laat vir soek en om gevind te word – meer nog, ʼn swerftog en ʼn tuiskoms by die Vader.
Of jy nou sukkel met geloof of nie, geloof bly die grootste gawe van God en vir dié wat twyfel, die bede: Ek glo Here; kom my ongeloof te gemoet.
Gebed: Here, om te glo verg niks van ons nie, maar vra alles. Dankie God dat U die Gees gestuur het om ons op die pad van geloof te oortuig en te ondersteun