"Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie."
- Daniël 3:17-18 - Ons lees hier dat Nebukadneser 'n baie groot beeld opgerig het. Dit was dertig meter hoog! Die koning wil dat almal sal sien hoe groot en magtig hy is. Niemand anders kon nog so 'n groot beeld maak nie. Dit is 'n besondere beeld wat met goud oorgetrek is. Hy laat almal kom, nie net om die beeld te sien nie, maar ook om voor die beeld te buig en dit te aanbid. Dit word by herhaling gesê. Hiermee dryf die skrywer die spot met die koning se grootheidswaan en sy soeke na erkenning. As mens nie glimlag nie, dan het jy simpatie met 'n arrogante dom koning wat sulke dinge aanvang. Die koning tree verder dreigend op. As iemand dit durf waag om nie te doen wat hy beveel nie, sal hy/sy in 'n brandende vuuroond gegooi word. 'n Gewisse dood wag as jy nie luister nie! Dit lyk asof die koning in sy doel slaag. Almal kom. Almal buig en aanbid. Niemand wil brand nie. Almal luister, al is dit net uit vrees vir die dood of ter wille van die behoud van die eie lewe. Alles verloop volgens die koning se plan. So het hy gedink. Maar is dit regtig so? Nadat die beeld van Nebukadnesar gemaak en in die Dal Dura opgerig is - waarskynlik sowat tien kilometer suid van Babel - het die koning 'n inwydingsdiens gereël. Bevel is aan al die hoë amptenare dwarsdeur die ryk gegee om die inwyding by te woon, sodat elke volksgroep en volk behoorlik verteenwoordig was. Om die indrukwekkende grootse karakter van die plegtigheid te benadruk, word die hele lys van hoogwaardigheidsbekleërs twee keer na mekaar genoem. Die hele prosessie neem stelling voor die beeld in. Die aankondiger se stem klink hard. Wanneer die geluid van die instrumente gehoor word, moet almal die beeld aanbid. Wie dit nie doen nie, sal in die brandende oond gegooi word. 'n Hele lys instrumente word genoem: die trompet (oftewel die bekende militêre ramshoring); die skaapwagtersfluit waarmee skape bymekaargemaak is; die siter ('n tipe kitaar); die lier ('n driehoekige snaarinstrument); die harp ('n driehoekige snaarinstrument met 'n klankkas bokant die snare); en ander blaas- of musiekinstrumente wat kan dui op iets soos 'n doedelsak. Die verteller is lief vir lyste. Dit kan wees dat hy met hierdie lyste van die hoogwaardigheidsbekleërs en herhaling van instrumente, met die prosessie spot. Terwyl al die amptenare van die verskillende onderhorige volke voor die beeld staan, kom 'n volgende bevel: wanneer die musiek begin speel, moet almal buig voor die beeld wat Nebukadnesar laat oprig het, en dit aanbid (Dan. 3:5). 'n Dreigement word aan die bevel toegevoeg: Wie ook al durf waag om die bevel te ignoreer, sal in 'n vuuroond gegooi word (Dan. 3:6). Niemand waag dit dus om die bevel te minag nie. Daarom hoor ons dat almal by die aanhoor van die musiek buig en die beeld aanbid (Dan. 3:7). Al die eeue deur klink die eentonige refrein: buig vir die verleiding of word gedwing om te buig of word uitgeskakel (vgl. Op. 13:14, 15). Hoe magteloos is die hoogtepunt van menslike mag - net 'n gloeiende brandende vuur wat sterker is as die gode (Dan. 3:15), nie juis 'n besondere getuigskrif vir daardie gode nie. Die toppunt van menslike mag: dwang om eenheid te kry, al is dit 'n dooie doodse eenheid tussen dooies en lewende dooies. Die fokus val skielik op drie manne wat nie luister nie. Sadrag, Mesag en Abednego buig nie en aanbid nie die beeld nie. Hulle word uitgevang en voor die koning gebring. Die koning is woedend. Tog gee hy hulle 'n tweede kans. Hy wil weet of dit waar is dat hulle sy opdrag ignoreer. Nou kan hulle bewys dat dit net 'n foutjie was. Die koning tree op asof hy die magheer der maghere is. Uit 'n posisie van gewaande sekerheid sê hy dat dit in orde sal wees as ons drie vriende nou maar net gehoorsaam is. Dit is tog logies dat hulle sal gehoorsaam; die grote koning het dan self hulle beveel. Hy dreig ook dat die oond ongehoorsames se voorland is. Grootdoenerig klink die retoriese vraag: en watter god sal julle dan uit my mag kan red? So triomfantlik. Niemand en selfs geen god kan julle uit my mag red nie. Ek is magtiger as enige god, selfs as julle God, beweer die koning. Die gelowige vriende deins egter nie terug nie. Dit was nie 'n oorsig nie. Hulle het uit geloofsoortuiging nie gebuig nie. Hulle weier nou weer om 'n ander god of beeld te aanbid. Byna uitdagend stel hulle dit aan die koning dat hulle glad nie van plan is om voor die beeld te buig nie. Dan vind ons die kernverse in die verhaal: "Ons het ons God vir Wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie" (Dan. 3:16-18). Hulle weier om ontrou te wees aan God, al kos dit hulle lewens. Hulle bely dat die Here die mag het om hulle te red. Maar belangrik: hulle aanbid God nie sodat Hy hulle moet red nie. Selfs al sou Hy hulle nie red nie en hulle sterf, sal hulle Hom nog steeds dien en sal hulle nog getrou bly aan Hom. Dit gaan dus vir hulle oor gehoorsaamheid aan God EN selfs in daardie baie moeilike omstandighede is gehoorsaamheid aan God nie onderhandelbaar nie! Dit gaan vir hulle ook nie om waagmoed, waaghalsigheid, om 'n kans met God te vat nie. God is by magte om ons te red, maar ons (Sadrag, Mesag en Abednego) redding is nie nou ter sprake nie. Al sou Hy ons nie red nie, moet die koning nogtans weet dat hulle nie sy beeld sal aanbid nie. Dit gaan dus eenvoudig oor gehoorsaamheid ongeag die prys. En dan hoef die dinge glad nie ingewikkeld gemaak te word met vrae soos: het die eise van God se wet nie miskien deur die jare 'n bietjie verander nie? Dit gaan eenvoudig om gehoorsaamheid aan God wat groter is as Nebukadneser en dan is dit 'n uitgemaakte saak om die almagtige God te dien soos Hy beveel! Hulle bly getrou in lewe maar ook in sterwe. Want: Die verlossing, roem en eer kom nie uit woestyne ver, nie uit oos of weste her; want die Regter is die Heer. Hy sit bo die hemelboog - Hy verneder en verhoog. (Ps. 75:4 - Berym) Ons verhaal bereik breekpunt. Die koning is wit van woede. Die vuur moet sewe maal warmer gemaak word. Sadrag, Mesag en Abednego word vasgebind. En die sterkste lyfwagte moet hulle in die vuur gooi. Sewe speel 'n belangrike rol in die boek. Die oond moet sewe maal warmer as gewoonlik gemaak word, want die stryd is gemik teen die lewende God. Charl le Roux in sy boek oor Daniël skryf: Dit is of ons verhaalmeester wil sê dat Nebukadnesar intuïtief weet dat mens God nie met gewone handskoene aanpak nie. Die vuur waarmee jy God aandurf, moet sewe maal warmer wees. En die manne wat God se manne moet vasbind en in die vuur gooi, moet die sterkste wees. Mens wil amper lag. God is die God wat die vuur van oordeel kan bring. Hy is die God wat vuur en swael uit die hemel stuur en in Genesis 19:24 Sodom en Gomorra en omstreke met vuur verwoes. Nebukadnesar stook sy vuurtjie tot sewe maal warmer om só stelling in te neem teen die God van vuur en swael. En die resultaat van dié stryd met die lewende God? Nebukadnesar se groot vuur verbrand sy sterkste lyfwagte: dit word 'n vuur van oordeel. Die lyfwagte verbrand, maar God se manne verbrand nie. 'n Wonderwerk gebeur, want 'n Goddelike verskyning vind plaas. Daar is iemand by hulle in die oond. Letterlik staan daar 'n godeseun. Dit is God se Engel wat by hulle is. Sterker gesê, dit is God in die gestalte van Sy bode. Dit is God se Engel wat dikwels bemiddelend optree in die verklaring van geheimenisse. Nebukadnesar se sterk manne verbrand, maar God se Gestuurde is ongedeerd. Nebukadnesar roep sy raadgewers en verneem verskrik of hy dit dalk verkeerd gehad het, want hy het drie manne in die vuur laat gooi en nou sien hy vier. Nebukadnesar word belaglik gemaak. Die vreeslike vuur wat God se manne moes verteer, word in God se hand vuur van loutering en openbaring. Die vuur word 'n venster op God. Nebukadnesar en al die hoogwaardigheidsbekleërs kan met hulle eie oë iets van die lewende God sien. Die manne van God se liggame is ongedeerd, die hare op hulle koppe is nie geskroei nie en hulle klere is nie gebrand nie. Daar is nie eens 'n reuk van brand nie. Só is God! Daniël 3 wil weer eens bely dat God getrou is. Hy sal sy kinders nie in die steek laat nie. Hy sal ons nie noodwendig red van die gevaar nie, maar sal altyd by ons wees. Hieraan kan ons vashou ook onder die moeilikste omstandighede. Is hierdie hoop wat in Daniël 3 aan ons geopenbaar, en 'n werklikheid word, nie maar 'n ontvlugting van die werklikheid nie? Is dit nie maar 'n gewoon menslike reaksie om, as die situasie moeilik word, te hoop dat die ellende tot 'n einde sal kom nie? Ja dit is so. En gelowiges is ook net mense. Maar gelowiges is mense wat in 'n persoonlike verhouding tot God staan. Dit maak hoop iets anders. Dit maak hoop geloofsvertroue of geloofshulp. En daarom weet ons dat God juis die anker is waaraan ons onder alle omstandighede en ten alle tye kan vashou. Ons kan weet dat ons tot alles in staat is deur Christus wat ons die krag gee. Daarom kan ons voortgaan om te werk en te bou. Hoop nie op eie belange welsyn en welvaart nie, maar om al meer deel te kan hê aan die heerlikheid van God. Die hoopvolle gelowige beleef dan ook nou reeds, onder watter omstandighede ook al, 'n voorskot op die toekomstige geluk. Daniël 3, net soos Daniël 6, verkondig dat God se mag so groot is en Sy verbintenis aan die gelowige so sterk dat niks hulle werklik van Hom kan skei nie, selfs nie die dood nie (vgl. ook Rom. 8:31-39). Selfs in die dood, soos in die brandende oond, laat Hy die gelowiges nie alleen nie. Gebed: Gods sterke Engel wil 'n laer van beskutting wees óm almal wat die Here vrees Hy maak hul onrus stil. Ervaar dan en aanskou hoe waaksaam God is en hoe goed Hoe salig is 't in my gemoed as ek op Hom vertrou! Amen (Psalm 34:4 - Beryming) Hartlike groete in Christus. Hentie Krüger Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|