"Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. Vir perde sit ons 'n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met 'n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. 'n Klein vuurtjie kan 'n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek." - Jakobus 3:2-6 - Woorde speel nogal 'n baie belangrike rol in ons lewe. Het ons al gedink oor 'n stil lewe: 'n lewe sonder woorde? Ons kan ons eintlik baie moeilik 'n lewe sonder woorde indink. Natuurlik is dit baie belangrik om te praat. Sonder woorde sou kommunikasie bitter moeilik wees. Al mag dit so wees dat ons soms spottend verwys na die hemel op aarde as die man of vrou of kinders tog net vir 'n dag of wat stil kan wees, bedoel ons dit nie ernstig nie. Min dinge is so moeilik om te hanteer as stilte. Dink maar aan die tye dat iemand na aan jou stilstuipe het. Sonder woorde kan ons nie leef nie. Ons woorde vorm die grondslag van al ons verhoudings. Die verhouding tussen man en vrou is op 'n gevaarlike punt as daar nie gepraat word nie. Ouers en kinders dryf uitmekaar as hulle nie met mekaar praat nie. Iemand het eenmaal gesê dat die Here vir ons twee ore en een mond gegee het, wat beteken dat ons twee keer soveel moet luister as wat ons praat. Dit is ook belangrik. Maar wat hier ter sprake is, is wat ons sê. Wat is die waarde van ons woorde? Wat Jakobus ons in hierdie gedeelte leer is dat ons ons tonge onder beheer moet bring. Want sien: praat moet ons praat. Van kleins af word ons daarin opgevoed, leer ons grammatika reëls, sinskonstruksies en uitdrukkingsvermoë aan. Ons praat ons letterlik in 'n woordeskat in. Ons gaan praat-praat deur die lewe. Ons voer graag die woord en kom graag ter sprake. Ons is in die ware sin van die woord: ver-ant-woordelik. Asof dit nie genoeg is nie, kom daarby nog die wonder dat God sy Woord in ons mond plaas, dat Hy deur ons woorde sy Woord aan mense bekend maak. Wat 'n genade: die Woord val die wêreld deur die poort van 'n mensemond binne! 'n Mensemond word 'n mondstuk van die Woord. Ons woorde word 'n eggo van God se Woord, ons kan sy Woord letterlik nasê ... Wanneer ons dus met mekaar praat, moet dit goeie woorde wees, aangename woorde wees, waar woorde wees, moet God deur ons aan die woord, en so aan die Woord kom (1 Pet. 4:11). Ons woorde moet ander bou, stig en rig. Dit moet vriendelik wees en van goeie smaak getuig (Kol. 4:6). Dit moet die regte woord vir die regte tyd en geleentheid wees. Dit moet 'n woord wees wat pas ... in die Woord. "Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd" (Spreuke 25:11). Luther het die tong "daardie stukkie vleis tussen die twee kake" genoem, kan ook 'n woeste vernietiger wees. Dit kan soos 'n vuur wees, sê Jakobus. 'n Vuur wat klein begin, maar 'n groot bos, 'n hele lewe aan die brand kan steek. Die tongvuur wat uit die hel aangesteek word, het ten doel om so gou moontlik soveel skade moontlik aan te rig. Die begin is klein en "onskuldig": iemand laat val 'n woord, suggereer iets, bied die waarheid net 'n bietjie skeef aan. Dan vat die bos vlam en gou staan alles in ligte laaie. Lewens word verwoes deur leuens. Dit is duidelik dat daar slegte praatjies en skinderstories onder sommige van die mense aan wie Jakobus skryf, aan die orde van die dag was. Jakobus waarsku hulle dat dit radikaal teenstrydig is met die feit dat hulle Christene wil wees. As 'n mens 'n wedergebore hart het, moet jy vanselfsprekend ook 'n wedergebore tong hê. Ja, God ken ons. Hy weet hoe moeilik dit is om ons tong en taal te tem. Hy weet dat ons maar altyd weer neig om die band tussen dié Woord en ons woorde los te ruk. Hy weet dat ons op ons beste uit dieselfde mond lof én vloek laat gaan (Jak. 3:10). Dat ons dubbelsprakig en "tweetalig" geraak het. Dat ons met 'n "gesplete" tong praat. Dat ons die lieflikste lof na Bo roep, én die verskriklikste vloeke na ons medemens slinger. Ons praat agter mekaar se rug, skinder, steek mekaar in die rug, trek waarhede skeef. Ons deurpriem mekaar met woorde, dodeliker as dolke; vergiftig mekaar daarmee, aakliger as arseen; blaas mekaar daarmee uiteen, erger as grofgeskut. Ons etiketteer, indoktrineer en saboteer - met woorde! Dit alles raak nie net ons naaste nie, maar ook onsself. Wees eerlik teenoor jouself. Die waarheid behels ook om jouself te bly. Om nie meer te wil wees as wat jy is nie, geen "rol" te wil speel nie. Waar-wees is eg-wees, natuurlik-wees, nie jouself witter te probeer maak deur ander swart te smeer nie, jou nie belangrik voor te doen deur 'n ander se werk of persoon te verkleineer nie, jou nie interessanter te probeer voorstel deur dinge te vergroot/gunstiger voor te stel nie. God het sy Woord in 'n mense-mond plaas geplaas. Hy het aan sy Woord 'n mense-mond gegee. In 'n krip in Betlehem lê die Woord, die Waarheid en 'n mens saam. Hy self, Jesus, het gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe" (Joh. 14:6). In hierdie een liggaam saamgebundel: ware mens, Waarheid en Woord ... soos dit hoort. Ons wou Hom egter weg hê. Ons het Hom letterlik doodgepraat. Met verdraaide aanklagte sy oënskynlike ondergang bewerkstellig. By monde van Pontius Pilatus sinies, onbegrypend gevra: "Wat is waarheid?" (Joh. 18:38). Ja, ons het Hom, die Waarheid, in 'n graf agter 'n klip probeer toerol. Maar die waarheid het 'n manier om te seëvier. Dit kan nie agter 'n klip gehou word nie. Die Woord wen! Op die derde dag staan Hy op. Want die Woord kan nie geketting word nie. Dit neem sy loop oor die wêreld heen. En in Jesus Christus bly my hart en tong ingestem op God se hart, God se Woord, God se gedagtes, sodat my lewe en woorde die verlengstuk van Sy lewe en Gees word. Dan word my woorde tot 'n fontein van seën, genesing en verlossing en word ek 'n lewende mond van God op aarde, 'n getuie van die waarheid. Ons kan dit slegs bereik indien ons die woorde van Psalm 141:3 na-bid: "Here, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe!" Gebed: Here, transformeer ons, sodat ons werklik soos u beelddraers sal lewe! Neem ons haatspraak,en maak daarvan handdrukke. Neem ons vooroordele,en maak daarvan vredesoffers. Neem ons misverstande,en skryf daarvan musiek. Neem ons verdeeldheid,en choreografeer dit tot 'n dans. Neem ons hulpeloosheid,en transformeer dit tot hoop - Ons wag om te sien hoe die wonderkrag van u liefde, wat U nooit aan ons onttrek nie, dié vernuwingswerk gaan doen. Amen (Prayers: Christian Aid for the World - Uit: Gebedeboek vir die lewe (Lux Verbi.BM) Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|