Deel (1)
Die Bybel sê: "Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word." (Matt 4:1 NV). Dit lyk of dit God se standaard oefening is. Hoekom? Hy lei jou eers op voordat Hy jou oorlog toe stuur. Veronderstel jy is douvoordag op, moet kilometers ver hardloop met 'n swaar rugsak, en luister na gesagsfigure wat jy waarskynlik nie ken of van hou nie. Maar wanneer jy die toets slaag mag jy die uniform dra. God het Sy Seun in 'n situasie ingelei waar Hy drie vlakke van aanvalle moes afweer. Jy sal dit ook ervaar. 1) Die aanval van die brood. Het Jesus brood nodig gehad? Ja. Hy was vir 40 dae sonder kos. Hy het egter geweet dat Sy grootste behoefte nie natuurlike kos was nie, maar geestelike kos. Hy het vir satan gesê: " . 'n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom." (Matt 4:4 NV). Eers as jy vertrou dat die Here in jou materiële behoeftes sal voorsien, sal jy jou geestelike behoeftes eerste kan plaas. Tot dan gaan jy dink dat jy vir jouself moet sorg en in vrees in plaas van geloof lewe. Dis nie hoe God wil hê jy moet leef nie. ". beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee." (Matt 6:33 NV). Wanneer jy bekommerd is, vertrou jy nie op God nie. Maar wanneer jy op God vertrou, hoef jy nie bekommerd te wees nie. Die keuse is joune. Sielekos: 2 Kron. 12-15; Luk 15:11-32; Ps 119:97-104; Spr. 21:24-27 Deel (2) 2) Die aanval op die toppunt. Dis die tweede versoeking wat Jesus moes weerstaan. "Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan." (Matt 4:5 NV). Hier is die vrees vir mislukking ter sprake. Satan sal vir jou fluister: "Jy is op die toppunt van sukses, maar jy kan maklik afval." Hy sal jou vorige mislukkings ophaal, en jou herinner aan leiers wat voorheen misluk het. Hy sal vir jou sê: "As mense maar net besef hoe min jy eintlik weet, of met watter dinge jy worstel, sal hulle jou nie respekteer nie." Daar is twee tipes vrees: gesonde vrees en ongesonde vrees. Gesonde vrees hou jou afhanklik van God. Dit beskerm jou teen hoogmoed en selfgenoegsaamheid. Daar is ook 'n ongesonde vrees wat jou in die skuit gaan vaskeer as Jesus sê jy moet uitklim en saam met Hom op die water loop. Jy sê dalk: "Maar Petrus het amper verdrink!" Ja, maar net hy het al die vreugde van 'n wandeling op die water ervaar! Om geloof te hê, beteken nie dat jou maag nie soms gaan draai nie. Jy het egter 'n keuse. Jy kan voor vrees swig of jy kan op die Here vertrou wat jou geroep het, wat jou onderhou het, en wat nooit versuim het om jou die krag te gee wat jy nodig het om struikelblokke te hanteer nie. As jy op jou eie intellek of talente staatmaak, het jy goeie rede om bang te wees. Maar as jy op God kan staatmaak, hoef jy vir niks bang te wees nie. Sielekos: 2 Kron. 16-18; Luk 16:1-18; Ps 119:105-112; Spr. 21:28-31 Deel (3) 3) Die aanval van die kruis. Kom ons kyk na Jesus se derde versoeking: "Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en sê vir Hom: 'Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.'" (Matt 4:8-9). Satan se derde aanval gaan oor die lewe sonder die kruis. Om dit eenvoudig te verduidelik, het satan vir Jesus gesê: "U hoef nie die kruis te dra nie, buig net voor my en U kan alles kry." Jesus sê toe: "Gaan weg, satan..." (Matt 4:10 NV). Weg met enige leerstelling wat sê die Here is jou portier en Hy moet op jou wag. Paulus het geskryf: "... en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê." (Gal 2:20 NV). Het God belowe om jou te seën? Ja, natuurlik! Maar dit beteken nie dat jy nooit gaan seerkry nie, of dat jy nooit tekort, uitputting, verraad of teleurstelling gaan ervaar nie. Jesus het gesê: "As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in." (Joh. 12:24 NV). Om God se wil te kan doen, moet jou eie wil elke dag sterf. Daarna sal God elke dag vir jou nuwe seëninge gee. Sielekos: 2 Kron. 19-21; Luk 16:19-31; Ps 119:113-120; Spr. 22:1-3 Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|