Ek wens soms ek kon makliker glo, soos daardie tannie wat nou die dag sê sy twyfel nooit. Of dalk nie... Dalk wil ek juis nie so glo nie. Om te glo sonder om ooit te worstel met die groot vrae van die lewe, is ‘n geloof wat in motbolle verpak is. (Onthou jy — in die ou dae het ons sulke giftige klein balletjies in ons hangkaste gebêre sodat die vismotte nie gate in ons truie vreet nie. My wintersklere het altyd aan die begin van die somer na formalien of so iets geruik.) Om een of ander rede dink ek aan motbolle as ek hoor van “super-Christene” wie se geloof soos daardie “before-and-after” advertensies klink. Vroeër was alles net sleg in hulle lewe, maar nou sweef hulle op ‘n wolk van nimmereindigende oorwinnings.
Wanneer mense se getuienisse net bestrooid is met deurbrake, gebedsverhorings, seëninge en oorwinnings, dan voel ek uit my diepte. Geloof hier aan my kant van die draad is ‘n daaglikse stryd. Elke dag moet ek van voor af kies om op Jesus se pad te loop en sy kruis te dra. Daagliks is daar enigiets vanaf oorwinnings, struikelings, deurbrake en toe-deure op my pad. Daagliks is daar ook teleurstellings en vreugde. Partykeer wil ek my kop in skaamte laat sak dat ek die naam Christen dra. Ander kere wil ek van die bergtoppe af uitskree dat Hy Heer is. Nooit word die pad juis makliker nie. Tog wil ek met alles in my verder stap saam met Jesus. Ek wil niks anders doen as om Jesus enduit, en as dit moet: dieper die storms in, te volg nie. Hy trek my magneties nader deur sy Gees. Saam met Paulus wil ek tussen my teenslae en klein oorwinnings deur uitroep: “Vir my is om te lewe gelyk aan Christus!”