Onthou jy hoe jy gevoel het toe jy jou diploma of universiteitsgraad ontvang het? Vermenigvuldig daardie gevoel 'n duisend keer oor. Verbeel jou jy is in die teenwoordigheid van die Een wat aan jou die kroon van geregtigheid sal toeken terwyl al die heiliges van die eeue toekyk. Paulus het op sy graduering met die hoogste onderskeiding gewag: "Ek het die goeie wedloop afgelê... ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die... kroon vir my..." (2 Tim 4:7-8 NV). Hoe kan jy die hoogste onderskeiding in hierdie lewe behaal? Lei 'n onselfsugtige lewe. Daar is geen groter struikelblok vir 'n gelowige as selfsug nie. Ego en selfbevordering besoedel ons siele en vernietig ons verhoudings. Paulus het verstaan hoekom dit nodig was om die ego te onttroon: "... nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe..." (Gal 2:20 NV). Dit weerspieël die volgende: a) 'n Verandering in waardes. Paulus het eens geleef om Christene te vervolg, en nou sê hy: "... om te lewe, is vir my Christus..." (Fil. 1:21). b) 'n Verandering in ambisie. Paulus se doel was om 'n erkende kampioen van godsdiens te wees, maar nou sê hy: "... wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus..." (Fil. 3:7 NV). c) 'n Verandering in denke. Die briljante filosoof, Fariseër en prokureur doen afstand van sy selfsugtige maniere en skryf: "Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was." (Fil. 2:5 NV).
Sielskos: Esra 1-2; Luk 9:57-62; Ps 46; Spr. 19:18-20 Deel (2) Lei 'n opofferende lewe. Verlossing is gratis, maar 'n gradeplegtigheid met die hoogste onderskeiding is duur: "...Ter wille van Hom het ek alles prysgegee ..." (Fil. 3:8 NV). Paulus het op 'n stadium 'n gemaklike lewe gehad, en toe het alles verander. Hy is amper doodgeslaan, en hy het naaktheid, slaaploosheid, hongersnood en dors verduur (2 Kor. 11:23-29). Het hy mismoedig geraak? Ja. Het hy opgegee? Nee. Het hy gebid vir verligting? Natuurlik! Hy het die Here drie maal gevra om sy lyding te verlig. Toe God antwoord, "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is," (2 Kor. 12:9 NV) het Paulus geleer om "bly [te wees] oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede." (2 Kor. 12:10 NV). Waar het hy soveel vreugde gekry? Deur die "oneindige waarde om Christus te ken". Alhoewel hy bewus was van sy probleme, het hy toegewyd gebly aan sy Here. Paulus het besluit dat ongeag die koste, dit die moeite werd was om te gradueer met die hoogste onderskeiding. "Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie... God sal [bekend] maak wie Sy kinders is." (Rom 8:17-19 NV). Leef vandag met daardie prentjie in jou gedagtes. Sielskos: Esra 3-5; Luk 10:1-12; Ps 78:1-8; Spr. 19:21-23 Deel (3) Lei 'n gefokusde lewe. Groot presteerders bly gefokus op hul doelwit. Hulle filtreer die onbelangrike goed uit en fokus op hulle teiken soos 'n laser, terwyl almal rondom hulle se lewens vol en deurmekaar is. Paulus se roeping was sy obsessie. "Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het..." (Fil. 3:13-14 NV). Dit het hom so besig gehou dat alle ander belange in die niet verdwyn het. Hy het nie toegelaat dat enigiets of iemand hom van koers af bring nie. Hy het geskryf: "Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo..." (1 Tim 6:12 NLV). Hy het geweet dit was nie genoeg om sterk in die geloof te wees nie, jy moet ook sterk wees in die "stryd". Soms veroorsaak vrees, kritiek en die mislukkings van die verlede dat ons doelloos deur die lewe dryf. Ons is gedurig besig met krisisbestuur, en hoop dat iets sal uitwerk. Dit werk egter nie! As jy wil gradueer met die hoogste onderskeiding moet jy: 1) Fokus. Fokus gebeur nie net nie, jy moet dit rig. 2) Fokus op een ding. 3) Vergeet van vorige mislukkings. 4) Lewe in intense afwagting op toekomstige sukses: "Sien uit na wat in die toekoms lê." 5) 'n Volledige verdedigende houding aanneem. "Ek jaag daarna om die einde van die wedloop te bereik." Neem hierdie stappe en jy sal ook met die hoogste onderskeiding slaag. Sielskos: Esra 6-8; Luk 10:13-24; Ps 78:9-16; Spr. 19:24-26 Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|