Die Verbondsark het God se teenwoordigheid tussen Sy mense verteenwoordig. Toe die Filistyne dit gevat het, het hulle pes-swere gekry. Toe hulle dit in hulle tempel gesit het, het hulle god, Dagon, vooroor geval op die grond (1 Sam 5). 'n Mens peuter nie aan God se dinge nie. Selfs as jy nie bereid is om God te dien nie, moet jy Hom ten minste eerbiedig. Toe Israel die Filistyne verslaan het, het Dawid besluit om die Ark terug te bring na Jerusalem. Toe God die Ark ontwerp het, het Hy ringe aan die kante met drastokke daardeur laat sit, en gesê dat dit slegs op die skouers van spesiale priesters gedra moes word. Maar iemand anders het aan "'n beter plan" gedink, en hulle het dit op 'n wa gesit wat deur 'n os getrek is. Dis net daar waar als verkeerd geloop het. Toe die Ark van die wa af begin gly, het 'n bystander met goeie bedoelings besluit om dit te stut. Hy het gesterf omdat hy dit gedoen het! Hierdie gebeurtenis het 'n les vir mense wat God se teenwoordigheid wil verpak en bemark. Wie is bevoeg om God se teenwoordigheid te dra? Slegs priesters wat glo en wat gereinig is met die bloed van die Lam en met die Woord gewas is by die doopvont, wat gemeenskap met God het aan Sy tafel, wat Hom aanbid by die wierookaltaar, en wat wandel in die lig van die waarheid wat deur die kandelaar voorgestel word. As ons God se teenwoordigheid wil uitdra en Sy kerk wil bou, moet ons dit op Sy manier doen.
Sielekos: 1 Kron. 1-2 ; Luk 11:14-28; Ps 78:56-64; Spr. 20:7-10 Deel (2) Die Verbondsark het drie dinge vir die mense van Israel beteken. Dis ook die drie dinge wat jy in die lewe nodig het. 1) Oorwinning. Israel moes vreemd vir hul vyande gelyk het as hulle gaan oorlog maak het, want die priesters wat die Verbondsark gedra het, het voor die weermag uitgeloop. Hulle vyande het waarskynlik gelag as hulle dit gesien het en gesê: "Watse kis dra julle rond?" Nadat hulle egter verslaan en verneder is, het hulle besef dat hulle nie teen mense geveg het nie, maar teen God. As jou verhouding met die Here reg is, sal Hy voor jou uitgaan en jou gevegte vir jou veg. 2) Leiding. As die Israeliete leiding nodig gehad het, het God met hulle gepraat op die plek waar die Ark in die tabernakel gestaan het. Hulle het ontdek wat jy sal ontdek: as jy God se leiding vra en na Hom luister, kan jy nie verkeerd gaan nie. Sy leiding is onfeilbaar: Ek is die Here jou God... wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan." (Jesaja 48:17). 3) Voorspoed. Voorspoed beteken eenvoudig om genoeg te hê om die wil van God te doen. Dis hoeveel God wil hê jy moet hê - niks minder nie en niks meer nie. Toe die Ark vir drie maande in die huis van 'n man met die naam Obed-Edom gestaan het, is alles wat hy gehad het, geseën en het dit vermeerder (2 Sam 6:10-12). Het jy meer oorwinning, leiding en voorspoed nodig? Bring tyd deur in God se teenwoordigheid en dra dit saam met jou waar jy ook al gaan. Sielekos: 1 Kron. 3:1-4:23; Luk 11:29-44; Ps 78:65-72; Spr. 20:11-14 Deeel (3) Die Verbondsark word omtrent 185 keer in die Bybel genoem, en dit moet dus belangrik wees. Elke aktiwiteit in die binne- en buitehof van die tabernakel het net een doel gedien: om jou in die Allerheiligste in te lei waar God teenwoordig was. Ou-Testamentiese simbole soos die Ark is illustrasies van Nuwe-Testamentiese realiteite. So is die Ark, wat die belangrikste meubelstuk in die tabernakel was, 'n illustrasie van die Christus wat ons liefhet en dien. Hy is die Koning en almagtig. Daar is niemand soos Hy nie. Net Hy is alle lof waardig. Paulus skryf: "Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. God het besluit om met Sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen..." (Kol 1:15-20 NV). As jou geloof op jouself gefokus is, sal jy nêrens kom met God nie. Maar as jou geloof op Christus gefokus is, is alles wat Christus het vir jou beskikbaar! Sielekos: 1 Kron. 4:24-5:26; Luk 11:45-54; Ps 119:1-8; Spr. 20:15-18 Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|