Jesus het gesê: "Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word." Pyn is die prys wat ons vir liefde betaal. 'n Outeur het geskryf: "As ons baie seer het, wonder ons: 'Hoekom het dit gebeur? Was dit om die wat moet aangaan se geloof te versterk?' Dis moeilik om 'ja' te antwoord as alles donker lyk. Die belangrikste ding vir ons op daardie oomblik is om nie die pyn te voel nie, maar as ons deur die pyn in ons lewens beweeg eerder as om dit te probeer vermy, sal ons anders daaroor voel. Ons leer daaruit. Net soos Josef, kan ons sien hoe God dit vir 'n groter doel gebruik. Op die ou einde beteken die rouproses dat ons die seer hanteer saam met die enigste Een wat ons kan genees." Die Bybel sê: "...ons het deur die nag gehuil. Maar vanmôre lag ons van vreugde." (Psalm 30:6 DB). Jou oggend sal kom; God het dit belowe! Jou pyn sal beter word met verloop van tyd. Jy sal ook nie vergeet nie; jy sal net anders onthou - met meer dankbaarheid en minder pyn. Hierdie saligspreking beantwoord twee vrae: 1) Wat gebeur met hulle wat in God sterf? "... In die huis van my Vader is daar baie woonplek... Ek gaan om vir julle plek gereed te maak... sodat julle ook kan wees waar Ek is." (Joh. 14:1-3 NV). 2) Wat van die van ons wat moet aangaan met die lewe? "... die God wat in elke omstandigheid moed gee... bemoedig... ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig..." (2 Kor. 1:3-4 NV).
Sielskos: 1 Tess 1-5; Matt 3:11-17; Ps 90:1-6; Spr. 1:1-4 In ons harde wêreld word sagmoedigheid dikwels vir swakheid aangesien. Maar Jesus se definisie van sagmoedigheid is die van 'n kragtige, groot hings wat ingebreek is. Hy het nie sy stamina verloor nie. Waar hy eers 'n sterk wil van sy eie gehad het, gee hy nou net toe aan iemand anders se wil. Sagmoedigheid behels die volgende: 1) Sensitiwiteit vir God. In 'n goeie huwelik verstaan twee mense dikwels mekaar se behoeftes sonder om 'n woord te sê. Die tyd wat hulle saam deurgebring het, maak hulle bewus van die dinge wat die ander een verryk, asook aanstoot gee, en hul toewyding aan mekaar maak hul huwelik hul belangrikste prioriteit. Dit is dieselfde met jou verhouding met God. 2) Gee oor aan God se wil. Die sleutel tot die verbreking van hardnekkige gewoontes is om dit nie in jou eie krag te doen nie. Dit hou net jou fokus op die probleem en versterk die krag daarvan. Die sleutel tot oorwinning is om jou fokus te verander en jou probleme en bekommernisse oomblik vir oomblik oor te gee aan God. "Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God..." (2 Korintiërs 3:5 NV). 3) Oorgawe aan God se doelwitte. Om te verstaan wat die verskil tussen oorgawe en selfsug is, moet jy hieroor nadink: "Hulle kom en luister ewe vroom na jou prediking, maar hulle doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Met hulle monde bely hulle liefde, maar hulle harte is net agter geld aan." (Esegiël 33:31 NLV). Dink 'n bietjie daaroor. Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 4:1-11; Ps 90:7-17; Spr. 1:5-9 Hierdie saligspreking korrigeer twee foute wat ons oor verlossing maak. Dat dit net daaroor gaan om te glo, en dat dit net gaan oor ons optrede. Dit gaan eintlik oor al twee hierdie aspekte. Die hergeboorte behels die volgende: 1) 'n Posisie van verlossing. As jy al jou goeie werke opmekaar stapel tot dit so hoog soos 'n berg is, sal jy steeds nie kan betaal om in die hemel in te gaan nie. Dis waar vir die tyd voor jy 'n Christen was en ook nadat jy een geword het. As jy die fliek The passion of the Christ gesien het en gedink het: "Hoekom moes Hy so 'n dood sterwe?", lê die antwoord hierin: "Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees." (2 Korintiërs 5:21 NV). Die oomblik as jy Jesus as jou Verlosser aanvaar, sien God jou as 'n 'verloste'. 2) 'n Toestand van verlossing. Verlossing is nie net 'n posisie wat jy voor God het nie, maar 'n toestand wat jy elke dag voor ander uitleef. Hoe doen jy dit? Deur God meer te vertrou as jouself (Spreuke 3:5) en deur te probeer om die karaktereienskappe van Christus te toon: "... liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing." (Galasiërs 5:22-23 NV). Jy sê: "Maar dis te veel! "Ja, maar ons hoef dit nie alleen reg te kry nie: "Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word... Dit doen die Here wat die Gees is." (2 Korintiërs 3:18 NV). Sielskos: Lev 1-4; Matt 4:12-25; Ps 10:1-11; Spr. 1:10-16 Daar word 'n storie vertel oor twee ouens wat oor godsdiens gestry het. Een van hulle het uiteindelik geskreeu: "Nou maar dien jy dan God op jou manier en dan dien ek Hom op Sy manier!" As ons, ons menings 'n voorvereiste maak om mekaar lief te hê, word ons uiteindelik vervreem van mekaar. Die meeste van die goed waaroor ons baklei, maak nie regtig saak nie. Jesus het gesê: "As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is." (Johannes 13:35 NV). Dis nie genoeg om van vrede te hou nie; jy moet 'n vredemaker wees. Toe daar 'n stryery in die Nuwe-Testamentiese kerk uitgebreek het oor die eet van sekere kos, het Paulus tussenbeide getree: "Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot 'n val kan bring nie. Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek... dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou - vir hom is dit dan onrein. As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie... Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee... Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder... Laat jou oortuiging hieroor 'n saak tussen jou en God wees..."(Romeine 14:13-22 NV). Gaan wees 'n vredemaker! Sielskos: Lev 8-10; Matt 5:13-26; Ps 42:1-5; Spr. 1:20-23 Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|