Loop agter Hom aan In daardie klassieke film, The Wizard of Oz, word die hoofkarakter Dorothy, en haar hond Toto, deur ‘n tornado weggewaai. As sy later iewers grondvat, sê sy: “Toto, I’ve a feeling we’re not in Kansas anymore.” Ek wonder hoeveel van ons voel ook asof ‘n tornado ons weggewaai het van bekende terrein af. Alles is deesdae anders. Niks is meer vas, veilig of voorspelbaar nie. Dit voel of die lewe buite beheer geraak het. Bo is onder en onder is onderstebo. Om nie eers te praat van agter wat skielik agterstevoor is nie.
Wel, hier’s ‘n nuusflits: vandag se wêreld is deurmekaar. Dit is plek-plek buite beheer. Die oplossing is nie om dit te ontken, of kunsmatig onder beheer te probeer bring nie. Kies eerder om midde in die storms wat rondom jou, en soms ook binne-in jou woed, agter Jesus aan te stap. Hy floreer in storms. Veilige hawens is nie sy skuilplek nie. Hy is Lig in die donker. Hy bied hoop te midde van wanhoop. As jy naby aan Jesus loop, is jy op koers, selfs al is dit donker en gevaarlik rondom jou.