'n Vrou is soos 'n koolstoof: As jy goed na haar kyk, sal sy baie jare lank sorg dat daar lekker kos op jou tafel is.............
Nou vra jy my, hoekom juis 'n koolstoof ? Die antwoord is eenvoudig, as jy net bietjie daaroor dink. Kyk, om vuur te maak in 'n koolstoof, verg voorbereiding. Jy moet voor die tyd sorg dat daar papier en fyn houtjies is, dat daar lekker stompe is en dat die kole emmer vol is. Dan begin jy daai vuur van bo af aanpak. (Jy kon nog nooit 'n koolstoof van onder af aan die brand steek nie !). Die papier is soos briefies en versies en goed, en is die begin van die hele proses. Dan kom die fyn houtjies. Hierdie is die komplimente en klein dingetjies wat jy vir haar doen om die klein vuurtjie bietjie groter te blaas. Dan volg die hout. Dis wanneer jy begin geskenke en goed koop, laaste kom die kole, die GROOT WOORD, LIEFDE. Dis die ding wat sorg dat die vuur lank en warm sal brand. Jy pak ook nie sommer alles gelyk daar in nie, nee, jy begin met die papier en doen dinge so stap vir stap, en soos die een mooi brand, so pak jy die volgende laag by. En eers wanneer daai vuur goed brand, dan mag my maar die deurtjie hier aan die onderkant oopmaak en met jou poker daar karring sodat die hitte goed kan afsak........... En 'n koolstoof vat baie lank om af te koel............ As jy dit nie besef nie, kan 'n man jou hande lelik verbrand..... En moenie dink goed soos Blitz of alkohol is 'n goeie aansteker nie ! Jy sal wel so vinnige opwelling en hittetjie kry, maar gewaarborg, dit sal maar kort van duur wees. Doen jy die ding nie reg nie, sal daai stoof tjouk en smoor en die hele huis sal naderhand vol rook wees tot pyn en lyding van almal. Maar doen jy dit reg, sal daar 'n gesellige rokie by die skoorsteen uittrek, 'n sekere sein vir almal dat daar hitte en gerief in daardie huis is. Daardie stoof word die middelpunt van die huishouding wat almal om haar saamtrek, wat sorg vir baie gesellige ure omgesels, wat warm maak as dit koud is en rotsvas staan waar sy staan. Die ander ding wat 'n man moet verstaan, is dat die stoof gereeld skoongemaak moet word, en gewoonlik word dit gedoen deur iemand anders van die vroulike geslag wat sorg dat daar op gereelde basis van die as ontslae geraak word. Daar is egter niks verkeerd daarmee Meneer, as jy ook gereeld gaan sit en luister as sy haar uitpraat en skoonmaak wat daarbinne opgegaar het nie. Dit sal net help dat die stoof beter brand. En dan natuurlik, so een keer 'n maand, moet die pype en goed skoongemaak word van die roet en goed, en dan is die stoof so bietjie buite werking. En dan is dit ook hoogs aanbeveelbaar dat jy nie gaan staan en karring nie......... Sy kan natuurlik ook doen met bietjie spoeg en politoer, en daar moet gesorg word dat sy gereeld kry wat nodig is. 'n Gepolitoerde stoof LYK net soveel beter as 'n ou vaal, onversorgde ene. En meneer, as jy nou self so nou en dan bietjie olietjies in die hand neem, en dit mooi sagkens orals aanwend, later tot in die gleufies in, sal jy verbaas wees wat se verskil dit aan jou stofie maak...... Wees net versigtig dat jy dan nie 'n broodjie of twee of drie in die oondjie los nie, want dit sal sekerlik groei en uitdy tot 'n ryke seen..... "n Man is soos 'n spiraalplaat hotplate: Draai net aan sy knop en hy is feitlik onmiddelik warm. Maar as die pot klaar gekook het, word hy weer net so vinnig koud ook........ Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|