Nie net ‘n houtkruis wat stof opgaar nie “Die enigste teken van Christus in ons huis is ‘n houtkruis teen ‘n muur. Vir die res gaan dit net oor ons eie belange,” sê iemand. Toe onthou ek dat ‘n jongmens eenkeer gesê het al wat sy van Jesus in haar kerk ervaar, is ‘n kruis teen een van die mure. “Maar,” het sy bygevoeg, “dit gaar ook maar stof op saam met die ander kerkmeubels.”
Gelukkig is daar ander verhale ook. Jesus beweeg elke dag tussen ons rond. Verlede Sondagaand het ek Hom helder raakgesien toe ‘n jongmeisie al die sakgeld wat sy opgespaar het na kerk in my hande kom druk om vir die armes te gaan uitdeel. Ek wou nog met haar praat, toe verdwyn sy woordeloos tussen die mense. Of in ‘n ou tannie wat slegs ‘n staatspensioen kry en wat R100 van die R200 wat sy by haar kleinkinders gekry het weggegee het aan een van ons bedienings om vir die Here dankie te sê. Ek sien Jesus gereeld langs die lewenspaaie. In die gevangenis en op siekbeddens, asook in oorvol staatshospitale hoor ek sy voetval. Jesus is te sien tussen armes en rykes, oud en jonk, ja, tussen almal op die markpleine van die lewe. Hy bring gedurig vir ons sy geskenke van lewe en hoop!