Toe ek uit die opskrif sien die perikoop gaan oor Jesus wat op die rug van die donkie gery het, gaan Google ek die woord ‘donkie’ en kry ’n lang artikel oor donkies in Wikipedia – die internet se ensiklopedie . Dit is al van Shrek se dae dat ek van die donkie hou. Deur al die jare het die donkie maar gedienstig en gedwee sy werk as pak- en trekdier gedoen sonder om te veel te kla. Maar as jy iemand vra om die sterkste karaktereienskap van ’n donkie te noem, gaan hulle sonder om te dink, skree: steeks! Maar dit is nie eintlik so nie. ’n Donkie is slegs steeks as hy nie die hanteerder vertrou nie of wanneer hy onseker is oor wat hy moet doen – ons almal het mos maar ’n verdedigingsmeganisme wat iewers inskop. Maar as hy jou vertrou, sê Wikipedia, kan jy met die donkie sweis –verskoning, dit is ’n Kaapse uitdrukking wat uitbeeld dat jy enige iets met so ’n mens, dier of voorwerp kan doen. Alhoewel hy baie gereserveerd is, is hy (kan jy dit glo?) intelligent, versigtig, vriendelik en gretig om te leer. En dit is so ’n mooi beskrywing van die donkie: nie voor op die wa nie, slim, tog versigtig, maar baie vriendelik en vir seker gretig om te leer.
Ek het nooit op Kweekskool verstaan wat hulle bedoel met ’n kapstok preek nie. Ek het net geweet ons mag dit nie doen nie, maar ek vermoed ons is nou op pad om hier in ene vas te loop. Jesus was op pad om deel te wees van ’n optog deur die strate van Jerusalem en ek weet nie of hy moeg was en of dit deel was van daardie dae se manier van doen nie, maar Hy het ’n vervoermiddel gesoek. Daarom stuur Hy twee van sy volgelinge na ’n naburige dorpie, Betfage – seker ’n voorstad van Betlehem, om vir Hom ’n donkie te gaan haal en hierdie is nie sommer net so ’n toevallige gebeurtenis nie. Nee, Jesaja het al hieroor geskryf: 5 ”Sê vir die mense van Jerusalem: Word wakker, julle Koning is op pad. Hy kom eenvoudig op ’n donkie aangery, Hy sit op die vul van ’n pakdier.” Op ’n manier word die koningskap van Jesus hierdeur gesimboliseer. Selfs Koning Dawid van ouds het op ’n donkie deur die strate gery. Die prentjie is so vol kontras: die grootste Koning ooit, op ’n eenvoudige donkie, met ’n saal van klere gemaak. Die eenvoudigste word uitgekies om die grootste werk te doen. Die een wat nie voor op die wa is nie, maar slim, versigtig, baie vriendelik en vir seker gretig om te leer. Ek dink nie dit was toevallig dat Maria óók op ’n donkie gery het net voordat Jesus op aarde gearriveer het nie. Hierdie prentjie van Jesus op die donkie, met Jesaja wat in die agtergrond ons oproep om tog net wakker te word, roep ons op om juis dit te doen: wakker te word. Wakker te word, want Jesus sit al klaar op die donkie. Ons moet erns maak met God se dinge en al die energie wat ons so in die dag op ander goed spandeer, begin kanaliseer na God se dinge. Dit is hier waar die Koning aan die beweeg is. Maar in die wakker word moet ons besef dat God ons amper soos donkies wil gebruik. Hy soek mense wat Hom na die hoofstrate van ons werk, vriendekring en die vreemde dorpe en stede sal dra. Hy soek eenvoudige mense. Hy soek mense wat nie voor op die wa is nie. Hy soek mense wat weet wat hulle moet doen en nie met hul bootse oor ander sal loop nie. Hy soek mense wat oorborrel van lag en regtig graag wil leer. Weet jy wat? Hy soek vir jou! Hy soek vir jou om die ander mense te wys. Hy soek vir jou om die wekker te wees wat ander mense laat wakker skrik. Word wakker! Die dag raak al swakker! Kom nou, wees jy die donkie en dra vir Christus die wêreld in. Sommer op jou manier, al dink jy jy is nie goed genoeg nie of dat jy dalk nie die skills daarvoor het nie. Wees beskikbaar. Wees op jou plek. Weet wat om waar te sê en te doen. Druk ’n smile op jou gesig en lag. En vat ’n pen en skryf neer wat jy leer. Dan, dan sal die wêreld anders wees. Dan sal die mense vir God en Jesus en die Gees sien. Dan sal die takke vlieg en God se Naam verheerlik word. Om oor na te dink Is jy bereid om ’n donkie te wees? Wil jy Jesus vir die wêreld gaan wys? Is jy versigtig? Is jy vriendelik? Lag jy? Wil jy leer? Waaraan moet jy werk om Jesus se donkie te word? Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|