Gaan na God toe vir 'n plan. God weet wat jy in die toekoms gaan benodig, maar nie jy nie. Hy het Noag 'n honderd jaar voor die vloed al begin voorberei daarvoor. Hy het Josef sewe jaar voor die hongersnood in Egipte voorberei om mense daardie tyd te voed. Sonder God se leiding gaan jy net ramings, raaiskote en vooruitskattings hê waarmee jy kan werk. "Die magtige teenwoordigheid van die Here het vir die Israeliete gelyk soos 'n gloeiende vuur op die berg. Moses het toe die wolk ingegaan en nog verder boontoe uitgeklim. Hy het veertig dae en nagte daar gebly." (Eks 24:17-18 NV). Moses het langer as 'n maand in God se teenwoordigheid vir Sy leiding gewag. Hoekom? Dit wat hy gebou het moes vir generasies aan die behoeftes van God se mense voldoen. Gaan na die plek van gebed. Sê vir die mense om jou dat jy nie terug sal wees voordat jy nie God se plan gekry het nie. Wanneer God iets bestel, betaal Hy daarvoor. Maar as Hy nie iets bestel nie en jy doen dit wel, is jy op jou eie. Hoekom? Jy sal nie die vrymoedigheid hê om na Hom toe te gaan as jy Hom nodig het nie. As jy nie reg begin nie, sal jy ook nie reg eindig nie. Jy mag dalk dink: "Ek is niemand spesiaal nie. Hoekom sal God met my praat?" As God jou geroep het, is jy spesiaal. Hy het belowe: "As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee..." (Jak 1:5 NV).
Sielekos: Heb 11:23-28; Eks 3:1-22; Eks 33:7-23; Eks 34:29-35 Deel (2) Doen die moeite om mense te leer ken. Geen predikant het al ooit so baie moeilikheid met 'n gemeente gehad soos wat Moses met die Israeliete in die woestyn gehad het nie. By die Rooi See was Moses so bly oor hulle oorwinning dat hy 'n lied daaroor geskryf het. Maar later het hy vir God gesê hy wou doodgaan oor die volk se klagtes. Een predikant het vir 'n ander gevra: "Hoeveel aktiewe lede het jy in jou gemeente?" Die ander predikant antwoord: "Ek het 500. Die helfte werk aktief vir my en die ander helfte werk aktief teen my." Liewe predikant, verskillende mense in 'n gemeente speel verskillende rolle in God se plan. Jy gaan van party van die mense hou en nie van ander nie. Predikante is geroep om hulle almal te lei, en hulle moet hul gemeentelede leer ken. Op sy sterfbed het Jakob oor elkeen van sy 12 seuns geprofeteer. Hy het gesê dat Ruben oproerig is, dat Simeon en Levi geneig is tot woede, dat Juda 'n goeie leier sal wees, dat Sebulon sy grense sal uitbrei, dat Issaskar bereid is om 'n swaar las te dra, dat Dan goed met mense kan werk, dat Gad 'n vegter is wat nooit sal onttrek nie, dat Aser 'n liefde vir kosmaak het, dat Naftali 'n liefde vir kinders grootmaak het, dat Josef seergemaak sal word maar dat hy sterker as ooit sal terugkom, en dat Benjamin 'n uitstekende entrepreneur is (Genesis 49). Om mense te kan lei, moet jy hulle ken. Bid: "As U my dan goedgesind is, maak my U wil bekend..." (Eks 33:13 NV). Sielekos: Neh 5-7; Ps 78:32-39; Spr 23:29-35 Deel (3) Luister na God se leiding. Wanneer jy belangrike besluite moet neem wat die toekoms gaan beïnvloed, moet jy na God luister en terugvoer verwelkom. Hoekom? As jy nie wil leer nie, kan jy nie gebruik word nie. Jy sê dalk: "Maar is meervoudige leierskap wys?" Ja, selfs die beste leiers het blinde kolle. "Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: 'As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie.'" (Hand. 15:1 NV). Wat was die resultaat? "Toe Paulus en Barnabas hulle daarteen verset... het, is daar besluit dat hulle en nog 'n paar ander van die gemeente na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan in verband met hierdie vraagstuk." (Hand 15:2 NV). Hoe het die apostels dit hanteer? Hulle het gesê: "En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur geloof gereinig." (Hand 15:8-9 NV). Nadat hulle daaroor gebid en 'n besluit geneem het, het die apostels 'n brief vir die kerk geskryf wat sê: "Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie..." (Hand 15:28 NV). Wat het gebeur? "Die gelowiges het dit gelees en was baie bly oor die bemoedigende boodskap." (Hand 15:31 NV). Sielekos: Neh 8-10; Luk 22:1-13; Ps 78:40-55; Spr 24:1-4 Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|