Deel (1)
Daar word na Disneyland verwys as die Magic Kingdom. Daarom word daar klem geplaas op 'n spesifieke waarde wat die fantasie versterk - diensbaarheid. Die werknemers word geleer dat hulle diensbaar moet wees sodra hulle hul voete binne Disneyland sit. As besoekers aanwysings vra, moet hulle hul vergesel. As besoekers 'n vraag vra wat jy al male sonder tal gehoor het, moet jy antwoord asof jy dit nog nooit gehoor het nie. Daar is 'n rit met die naam Jungle Cruise, en die vraag wat die meeste daar gevra word is: "Hoe lank is die rit?" Die beamptes moet hierdie standaard antwoord gee: "Die Jungle Cruise is 'n opwindende avontuurrit wat tien minute neem." Een werknemer was egter al redelik keelvol, en toe 'n paartjie hom vra hoe lank die rit duur, antwoord hy: "Drie dae." Die paartjie het omgedraai, teruggegaan na die Disney Hotel waar hulle op hul wittebrood was, hulle tasse gepak, uitgeteken en teruggekom na die ry vir die Jungle Cruise. Die volgende dag was daardie werknemer weg en iemand anders het by die ry gestaan en gesê: "Die Jungle Cruise is 'n opwindende avontuurrit wat tien minute neem." Wanneer jy God se koninkryk verteenwoordig, moet jy uit jou pad gaan om mense te verdra, hulle lief te hê en in hulle behoeftes te voorsien. Jesus, die Koning van hierdie koninkryk, het gesê: "... die Seun van die mens ... het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien..." (Matt 20:28 NV). Sielekos: 1 Kron. 10:1-12:22; Luk 12:22-34; Ps 119:25-32; Spr. 20:25-27, Deel (2) Jou waarde in die werksomgewing word bepaal deur die waarde wat jy tot die werk bydra. Wanneer 'n Christen werk toe gaan, hou die Here hom of haar aanspreeklik daarvoor om die werksplek te verbeter en 'n bydrae te lewer. Jesus vertel die storie van drie slawe wat elkeen geld van hulle eienaar ontvang het - een het vyf, die ander twee en die laaste een het een muntstuk ontvang. "Die een wat vyf... ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee." (Matt 25:16-17 NV). Hulle het hul vaardighede en inisiatief gebruik om 100% wins te maak. Hulle is deur hul eienaar gelukgewens. Die derde slaaf het egter geen ambisie getoon of ekstra moeite ingesit nie. Daarom het sy prestasie-evaluering nie goed gegaan nie. Jesus het toe iets gesê wat ons almal penorent moet laat sit: "Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word." (Matt 25:29 NV). Dit beteken dat jy in die moeilikheid by die Here sal wees as jou houding by die werk en jou werksetiek nie reg is nie. Dink vir 'n oomblik aan jou werk. As Jesus jou baas was, sou jy jou werk anders gedoen het? As 'n gelowige, moet jy aanhoudend jou houding hersien, terugvoer vra oor hoe om te groei, liefde en genade aan jou kollegas bewys, jou maatskappy winsgewend maak en jou werk geniet. Sielekos: Eks 16:1-18; Joh. 6:1-15; Joh. 6:25-40; 1 Kor. 11:23-24 Deel (3) Die moeilikste werk is dikwels die werk wat misgekyk word. 'n Man het eendag huis toe gekom na werk en die huis in chaos gevind. Daar was klere oor die vloer gestrooi, die wasbak het oorgeloop, die kinders het gehuil, die beddens was onopgemaak, die badkamer het gestink en die televisie het gebulder. Toe hy sy vrou vra wat aangaan, sê sy vir hom: "Jy weet jy vra elke aand vir my wat ek heeldag gedoen het. Wel, vandag het ek dit nie gedoen nie." As jy 'n tuisbly-ma of -pa is, beskou God jou werk as baie belangrik. Dit het meer waarde vir die toekoms as enige ander professionele beroep omdat jy die kwaliteit van die volgende generasie bepaal. Martin Luther het gesê dat wat jy in jou huis doen is net soveel werd as wat jy dit in die hemel by ons Here doen. Eendag sal God die ouers gelukwens wat vir hulle kinders gesorg het - wat hulle gebad, kos gegee en hulle gemors skoongemaak het - toe hulle moeg was en gedink het dat niemand kyk nie. Iemand loer wel oor jou skouer. Dit is die moeite werd. Jy is die een wat jou werk betekenisvol maak; nie andersom nie. Wanneer jy die gawes en passie ontdek wat God vir jou gegee het, en jy dra dit oor na jou werk, werk jy werklik vir God. Vra elke dag vir God om dit te laat goed gaan by jou werk en probeer om die groter prentjie daarin te sien - die roeping. Sielekos: 1 Kron. 12:23-15:29; Luk 12:35-48; Ps 119:33-40; Spr. 20:28-30 Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|