Kan ek as gelowige ook God se Naam ydellik gebruik? Orals word God se Naam misbruik as ‘n stopwoord. In flieks, sepies of tussen mense is dit volop. Die Tien Gebooie verbied dit. Inderdaad! Maar Die derde gebod is heel eerste vir die volk van die Here bedoel, nie vir buitestaanders nie. Die vraag is dus hoe sorg ons wat glo dat ons nie sy Naam “ydellik” gebruik nie.
Eksodus 20:7 word as volg vertaal in verskillende Bybels:
“You shall not repeat the name of the Lord your God in vain (that is, lightly or frivolously, in false affirmations or profanely).” (Amplified Bible)
“Do not use my Name for evil purposes.” (Good News Translation)
“No using the name of God, your God, in curses or silly banter.” (The Message)
“Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie.” (Boodskap)
“Moenie die Naam van die Here jou God sonder rede gebruik nie.” (Nuwe Lewende Vertaling)
Die werkwoord in Eksodus 20:7 (nāśā) beteken om op te tel of te dra (soos in 2 Kon 19:4; Jes 37:4, waar daar sprake is van “optel in gebed”). Die beskrywende term wat met hierdie werkwoord verbind word (laššāwĕ), word in die Griekse vertaling van die Ou Testament verstaan as “leeg, waardeloos of ydel.” Dus gaan dit oor die dra van God se Naam op ‘n leë, waardelose manier wat Hom van sy eer beroof.
Psalm 24 bied ‘n belangrike perspektief op Eksodus 20:7. Wanneer die psalmskrywer hier vra wie mag in die Here se teenwoordigheid verskyn, gee vers 4 ‘n treffende antwoord — diegene met rein harte en hande wat nie hulle siel oplig (lō-nāśā) vir ‘n afgod (laššāwĕ), of vals sweer nie. In Levitikus 19:12 verbied God sy volk om vals te sweer in Sy Naam, terwyl Jesus ons in die Bergrede verbied om enige geloftes in God se Naam af te lê. Ons ja is ja, en ons nee is nee.
Ons is God se mense oor wie sy Naam uitgeroep is (2 Kron 7:14). Om ons vir sy Naam te skaam en te maak asof ons Hom nie ken nie, is om die derde gebod in die gedrang te bring. Daarom dat Jesus ons in Matteus 10:32-33 oproep om sy Naam met eerbied op ons lippe te dra deur ons nie vir sy woorde te skaam nie. In 1 Petrus 4:16 hoor ons dat ons nie moet skaam wees as ons ly as Christene nie. In sulke tye moet ons God juis loof dat ons sy Naam mag dra! Die derde gebod word dus reg uitgeleef wanneer ons as gelowiges dag vir dag kies om ons Heer se mooi en groot Naam in ere te hou deur ons ganse lewe. Ons is die vlagdraers vir die Naam van die Here. Eers as ons dit regkry, verdien ons die reg om met buitestaanders hieroor te praat.