LEES: Filippense 4 :10 - 20. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (v. 13)
Voel jy vandag moedeloos? Is jy nie eintlik meer lus vir die lewe nie? Het alles dalk net vir jou te veel geword? Hoor dan die woorde van Paulus: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Ja, die groot waarheid is dat Iemand anders by jou betrokke is. Die gelowige in C h r is t us is nooit alleen in die wêreld nie. As dit só was, sou jy nie vandag hierdie gedeelte gelees het nie! Jesus Christus self is jou Metgesel op jou tog deur die wêreld. G o d wat louter liefde is, omarm jou - soos net ‘n Vader kan. Daar waar jy self nie meer verder kan loop nie, dra Hy jou - deur siekte, vrees, krisisse, rousmart en lewenschaos. Jesus is die Een wat die groot verskil maak. Hy het immers die volle prys vir jou betaal. Daarom hoef jy nie vandag in sak en as te bly sit nie. Veel eerder moet jy ‘n jubellied sing omdat jy aan Hom behoort. Jy is nie alleen in die wêreld nie. Geen probleem hoef jy ooit alleen aan te pak nie. Hy wat saam met jou loop, kan verder as jy sien. Jou seer en onsekerheid ken Hy. Daarom bied Hy homself vir jou aan as jou groot Sekerheid. Neem jou verhouding met Hom ernstig op en die lewenslas word lewenslus. Jou geloof sal vir jou weer nuwe betekenis kry en die wêreld om jou sal weer nuut word. In elke mens sal jy weer iets goeds ontdek. Daarom sal jy ook ‘n jubellied kan sing wat sê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Sonder Christus is jy niks nie. Met Hom ervaar jy die lewe in sy volheid! GEBED. Dierbare Here, Ek was moedeloos toe ek vanmôre wakker word. Die lewe het soos ‘n nagmerrie voor my uitgestrek. Toe lees ek hierdie woorde van Paulus. Nou weet ek dat my omstandighede nie hagliker is as wat syne was nie. Des te meer kan ek nou sê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Amen. (Word Stil en Luister. Eric Stander. Aktua Pers.) |