“Ek gaan nog eendag groot dinge vir die Here doen.” “Eendag as ek meer tyd op hande het, gaan ek weer by die kerk betrokke wees.” “Eendag as die misdaad afneem...” “Eendag as herlewing uitbreek...” Sulke taal is aan die orde van die dag in ons woordeskat. Toe onthou ek ‘n liedjie van John Foggerty van die Creedence Clearwater Revival faam wat sing: “Someday never comes.” Toe besef ek daar is nie ‘n dag met die naam “eendag” op ons kalenders is nie. Daar’s wel ‘n Maandag, Dinsdag, Woensdag... maar nêrens ‘n eendag nie. So ‘n dag bestaan eenvoudig nie. Ons het dit self opgemaak.
Op God se kalender is daar wel een ander dag, naas ‘n Donderdag, Vrydag, Saterdag of Sondag. Ek praat van VANDAG. 2 Korintiërs 6:2 skryf dat vandag God se gunsteling dag is. Dit is sy dag van redding. Vandag is die dag van groot dinge, nie môre of oormôre nie. Ook nie volgende week of aanstaande jaar nie. Te veel mense sit al hulle hoop op eendag. Tog het God net vandag vir ons gegee om tot Sy eer te leef. Hy het vandag op die hemelse kalender aangeteken en by ons elkeen afgelewer wat hierdie woorde lees. Ons het vandag as ‘n geskenk uit die Here se hand ontvang. Ons moet elke stukkie tyd wat in vandag weggepak is van hoek tot wal uitkoop, soos wat Paulus vir die Efesiërs skryf. Vandag is kosbaar. Dit is die enigste stukkie tyd wat ons tans tot ons beskikking het. Gister is reeds ‘n nagreis agter ons en môre lê nog ver in die toekoms. Maar vandag kan ons met vars woorde en opregte dade die Here eer en ander mense dien, soos wat Kolossense 3 van ons vra. Hoekom dan wag tot eendag? Daar‘s in elk geval nie so ‘n dag op enige kalender nie. Kies vir God se vandag en leef! ‘n Belangrike punt in Jesus se gelykenis van Lasarus en die ryk man in Lukas 16, wat dikwels misgekyk word, is wanneer die ryk man vir Abraham daar vanuit die doderyk vra om ‘n boodskapper na sy broers op aarde te stuur. Hulle moet gewaarsku word oor wat vir hulle voorlê. Hierop antwoord Abraham dat hulle die Wet en die Profete ter hand het. As hulle nie hierna luister nie, sal geen openbaring of spesiale ingrype hulle anders oortuig nie.
Die Woord is altyd genoeg... behalwe vir diegene wat na tekens soek. Of wat net in slegte gebeure die hand van die Here sien. Ek onthou hoedat ‘n geestelike jare gelede ‘n skool in ons omgewing “getroos” het na ‘n kind se tragiese dood met die woorde dat God dit toegelaat het om ons gemeenskap tot bekering te bring. Ook onthou ek hoedat ‘n familielid aldag gesê het die Here praat weer hard met ons as iets sleg gebeur. Kom ons hoor weer dat God se stem hoorbaar genoeg is in die Woord. En daar by die kruis van sy Kind. As ons die Skrif nie glo nie, sal niks op aarde ons oortuig nie. Die kruis is God se megafoon, nie ons omstandighede of spesiale tekens nie. Eind goed, alles goed! Die leeggestroopte kruis loop uit op ‘n ewe leë graf. Skoppensboer se bluf is geroep toe Jesus opgestaan het. Hy alleen hou die sleutels van hades se hekke stewig in sy eie hande vas. Christus is die verskil tussen ‘n slegte einde en ‘n goeie nuwe begin. Hy is die nuwe Genesis aan die einde van elke slegte Eksodus. By Hom is ware lewe te vind op elke pad waarop ons eie voetspore rondlê.
Nee, ons het nie videomateriaal oor Jesus se opstanding iewers in ‘n argief beskikbaar nie. Maar ons beskik wel oor belangrike historiese getuienis hieroor, soos dié van Jesus se aardse familie wat onverskrokke in Hom bly glo het lank na sy hemelvaart. Die evangelies vertel ons dat Jesus se vier broers aanvanklik nie in Hom geglo het nie. Maar die leë graf het dit alles verander. Spoedig het Jesus se aardse broer, Jakobus, die leier van die Jerusalemkerk geword. In die vroeg 60’s het hy met sy eie lewe betaal vir sy geloof in Christus. Judas, ‘n ander broer van Jesus, se agterkleinkind, Judas Kuriakos, was nog rondom die jaar 148 die biskop van die Jerusalemkerk. Hierdie langtermyn geloof van Jesus se naaste familielede onderstreep die integriteit van die evangelie. Geen “S” op sy bors nie Die strokieskarakter Superman dra ‘n S-teken op sy bors. Wanneer hy in sy gewone drag is en hy moet skielik ‘n krisis hanteer, dan ruk hy eers sy klere oop om sy super-drag te wys! Hoe anders is die Held van die hemel nie! Jesus het nie tussen ons aangekom geklee in ‘n spesiale uniform nie. Ook was Hy nie gewapen met hemelse lasergewere nie. Jesus se aardse drag was onopvallend, want dit was slawe se klere, soos wat Paulus ons in Filippense 2 herinner. Jesus se vriende was weerloses, sondaars en gewone mense. Sy enigste ‘wapens’ was sy woorde en dade wat lewe gee.
By Jesus het sondaars elke keer ‘n nuwe kans gekry. In sy teenwoordigheid kon siekes ‘n genesende aanraking te wagte wees. Hoe anders as vandag se helde, wat alles met krag en geweld uit die pad wil slaan, skiet of bombardeer, het Jesus op die hakke van mense geloop om hulle laste op sy skouers te tel. Hy is die Goeie Herder. Hy is die Lig vir die wêreld. Hy deel lewende brood en gewone brood uit. Hy is die Bruidegom wat vreugde weggee vir elkeen wat naby Hom loop. Nee, Jesus skiet nie al ons probleme in ‘n oogwink uit die pad nie. Hy het nie gekom om al ons vrae te beantwoord nie. Hy werk nie vir ons nie. Dis net mooi andersom. Jesus roep ons om Hom op sy terme te volg. Ook waarsku Hy vooraf dat sy pad smal is en dat ons sy kruis sal moet dra. Dieselfde beledigings en moeilikhede wat Hom te beurt geval het, wag ook op ons. Tog sal ons die hemele oop sien. Ware vreugde begin eers as ons ontdek dat ons nie vir Superman volg wat heeltyd in al ons selfsugtige behoeftes moet voorsien en al ons vrese en behoeftes aanspreek nie. (Lees dit weer...!) Nee, ons volg Jesus die Here. In sy teenwoordigheid geniet ons hemelse oorvloed en lewe wat tot ‘n ewigheid anderkant die graf aanhou. Ek betaal ‘n duur prys vir my naïwiteit. Ek vertrou mense toe-oë. Soms kos dit my. Enigiets van geld wat ek kwyt is, tot 'n verlies aan integriteit omdat mense my woorde verdraai en hul eie stories na die tyd spin. Daarom dat vroulief een keer gesê het party mense lees daardie plakkertjie op my voorkop. “Watter een?” vra ek toe. “Ag skat, die enetjie waarop daar geskryf staan: ‘sucker for punishment.’” Ware woorde. Tog dink ek die plakker moet net daar bly.
Iewers het ek die volgende spreuk gelees: “It’s hapier to be sometimes cheated than not to trust.” Paulus vat dit nog verder in 1 Korintiërs 13 as hy skryf dat ons altyd die beste van mekaar moet glo. Hierdie is nie sentimentele woorde waarmee ons vroom instem terwyl ons nogtans onlangse internasionale navorsing oor Suid Afrika in stand hou wat bevind dat minder as 20% mense mekaar vertrou nie. Ek wil nie so leef nie. Ek wil die beste van mense verwag omdat die Here dit ook van my verwag. Vandat Hy my gered het, behandel Hy my nie as ‘n sondaar nie. Hy dink regtig nie ek is tot geen goed in staat en tot alle kwaad geneig nie. Nee, God behandel my as ‘n tempel van die Gees (1 Kor 6:19). Hy beskou my as ‘n deel van sy heilige nuwe aardse volk (1 Pet 2:9-11) en as ‘n kind van ons Hemelse Vader (1 Joh 3:1). Ek weier om met agterdog te leef. Ek weier om toksies te raak en van vroeg en laat fout te vind. Ek weier om meer te weet wat alles verkeerd is met die wêreld as wat reg is voor God. Ek weier om my naam te alle koste te beskerm asof ek iemand danig is. My lewe is in die Here se hande. Goddank, ek het agtergekom daar is kosbare mense wat nie eindverbruikers van ander mense is nie. Sulke mense wat steeds ander vertrou, is die wêreld vol. Dit is hulle wat nie misbruik maak nie en wat steeds bereid is om jou laste te dra, te bid, om te gee en heel te maak. Sulke mense kan jy vertrou met enigiets van jou selfoon, rekenaar, kar, banksake, tot jou seer en swaar. Dank die Heer vir sulke mense wat ook met plakkers op hul voorkoppe leef. Die volgende spreuke oor vriendskap het my nogal aan die dink gesit:
“A real friend is one who walks in when the rest of the world walks out.” “Friendship is one mind in two bodies.” “If all my friends were to jump off a bridge, I wouldn’t jump with them, I’d be at the bottom to catch them.” Die meeste mense gebruik mekaar op, dan stoot hulle mekaar eenkant toe. Ware vriendskap is iets anders. Dit vra tyd, lojaliteit en opoffering. Vat vir Dawid en Jonatan. Dis nie verniet dat hierdie twee se vriendskap ‘n spreuk geword het nie. In 1 Samuel 20 lees ons hoedat Saul, Jonatan se pa, vir Dawid wou doodmaak. Toe Dawid vir sy vriend Jonatan hiervan sê, was dit vir hom ‘n skok. Tog het Jonatan beloof om sy vriend te help. Toe Saul agterkom sy seun probeer Dawid se lewe spaar, het hy hom beledig en daarop aangedring dat hy vir Dawid gaan haal om doodgemaak te word. Jonatan wou nie. Toe gooi Saul vir Jonatan met sy spies. Gelukkig was dit mis. Jonatan het egter besef Dawid is in lewensgevaar. Dawid moes vlug, maar nie voordat hy eers sy vriend Jonatan omhels het nie. Hulle het saam gehuil, want hulle het geweet hulle paaie skei daar (vers 41-43). Om vriende te wees met iemand vra dat jy deur dik en dun by hom of haar staan. Terloops, wat kos jou vriendskappe jou? Beskerm jy jou vriende se naam in hulle afwesigheid as ander oor hulle skinder? Bly jy lojaal aan hulle, al doen hulle soms dinge wat jy nie begryp nie? Ware vriendskap is eerlik. Nee, dis nie ongeskik reguit nie, maar eerlik. As jou vriende ‘n verkeerde besluit neem sonder dat hulle die implikasies daarvan besef, moet jy hulle reghelp. As iemand hulle benadeel, moet jy hulle waarsku. Wees daar vir hulle. Maar die belangrikste: Bid gereeld vir jou vriende. Tel hulle elke slag op jou skouers as jy voor God jou plek inneem. |
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|