Iemand skryf dat as sy net een karaktereienskap sou moes kies om deur die lewe te gaan, dan sal dit humor wees. Op sy beurt het Maarten Luther 500 jaar gelede gesê dat as God nie ‘n sin van humor het nie, dan sou hy nie juis in die hemel wou wees nie. Tog skryf Luther elders dat hy weet dat God hou baie van humor, want Hy het mense soos ons gemaak. Humor is nie net ‘n paar terloopse grappies nie. Dit is ‘n vrolike, ligte manier van leef. Let wel, nie ‘n ligsinnige of oppervlakkige manier van leef nie, maar ‘n ligter, sorgvryer leefwyse. Christus het immers al ons laste op sy eie skouers geplaas. Boonop voorsien Hy in al ons daaglikse behoeftes sodat ons ligvoets kan leef (Matteus 6:25-33). Humor en sorgvryheid kleur die lewe anders in. Dit omraam donker wolke met helderkleurige rame van hoop. Vergeet dadelik van W. C. Fields se advies: “Start every day off with a smile and get it over with.” Lag meer. Bekommer minder. Maak tyd om vrolik te wees. Vier fees in die teenwoordigheid van die Here.
Iemand sê iewers vir ‘n vriend: “My vrou is ‘n engel.” “Jy’s gelukkig,” antwoord ‘n ander ou, “Myne leef nog!” Nou ja, soms loop jy mense raak wat jou laat voel jy’s in die teenwoordigheid van ‘n engel. Hulle lewens straal daardie ietsie ekstra uit wat jy in jou eie lewe misloop. Hulle weerkaats God se vrede. Vat maar vir Josef (Genesis 37-50). Omdat hy net geloop en geleef het waar God se Lig skyn, het hemelse guns hom omring. Vanaf die huis van Potifar tot in die tronk daar in Egipte het hy die Here se seën weerkaats. Wat ‘n rolmodel vir ons elkeen om vandag na te volg. Nog meer sulke menslike weerkaatsers van God se teenwoordigheid wat ligvoets leef word dringend gesoek! Gewone mense wat vol is van God se vrede en blydskap is immers waaroor die regte lewe gaan. Vrede Stephan Joubert Vir meer as vier dekades reeds vind mense met gestremdhede ‘n veilige hawe in die L’Arche gemeenskappe wat Jean Vanier gestig het. Sy wêreldwye impak is legendaries. Toe hy in ‘n onderhoud gevra is of hy dink hulle verander die wêreld, was sy antwoord: “What can these little communities do? ... if they think they are going to change the world, they will be in a power game.” Hy sê toe dat dit slegs hulle roeping is om Goddelike liefde te weerkaats deur in harmonie saam te leef. Hierdie woorde, wat ek op Tom Smith se blog gelees het, het my behoorlik laat dink. So maklik kan ons goedbedoelde idees om die wêreld te verander deel van ‘n magspel word. Dan verskuif die fokus spoedig na ons planne en suksesse.
Dit is ons vernaamste roeping om Christus te verheerlik, al verander niks of niemand rondom ons nie. Ons is sy lewensgeur en aroma, al ruik ander die dood (2 Kor 2:14-17). Eers as ons dit begryp, sal ons uit die pad staan en geen suksesse vir onsself toe-eien as die Here werk nie. Dan verstaan ons Hy werk eintlik ten spyte van onsself en nie as gevolg van onsself nie. Vrede Stephan Joubert Kan ek as gelowige ook God se Naam ydellik gebruik? Orals word God se Naam misbruik as ‘n stopwoord. In flieks, sepies of tussen mense is dit volop. Die Tien Gebooie verbied dit. Inderdaad! Maar Die derde gebod is heel eerste vir die volk van die Here bedoel, nie vir buitestaanders nie. Die vraag is dus hoe sorg ons wat glo dat ons nie sy Naam “ydellik” gebruik nie.
Eksodus 20:7 word as volg vertaal in verskillende Bybels: “You shall not repeat the name of the Lord your God in vain (that is, lightly or frivolously, in false affirmations or profanely).” (Amplified Bible) “Do not use my Name for evil purposes.” (Good News Translation) “No using the name of God, your God, in curses or silly banter.” (The Message) “Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie.” (Boodskap) “Moenie die Naam van die Here jou God sonder rede gebruik nie.” (Nuwe Lewende Vertaling) Die werkwoord in Eksodus 20:7 (nāśā) beteken om op te tel of te dra (soos in 2 Kon 19:4; Jes 37:4, waar daar sprake is van “optel in gebed”). Die beskrywende term wat met hierdie werkwoord verbind word (laššāwĕ), word in die Griekse vertaling van die Ou Testament verstaan as “leeg, waardeloos of ydel.” Dus gaan dit oor die dra van God se Naam op ‘n leë, waardelose manier wat Hom van sy eer beroof. Psalm 24 bied ‘n belangrike perspektief op Eksodus 20:7. Wanneer die psalmskrywer hier vra wie mag in die Here se teenwoordigheid verskyn, gee vers 4 ‘n treffende antwoord — diegene met rein harte en hande wat nie hulle siel oplig (lō-nāśā) vir ‘n afgod (laššāwĕ), of vals sweer nie. In Levitikus 19:12 verbied God sy volk om vals te sweer in Sy Naam, terwyl Jesus ons in die Bergrede verbied om enige geloftes in God se Naam af te lê. Ons ja is ja, en ons nee is nee. Ons is God se mense oor wie sy Naam uitgeroep is (2 Kron 7:14). Om ons vir sy Naam te skaam en te maak asof ons Hom nie ken nie, is om die derde gebod in die gedrang te bring. Daarom dat Jesus ons in Matteus 10:32-33 oproep om sy Naam met eerbied op ons lippe te dra deur ons nie vir sy woorde te skaam nie. In 1 Petrus 4:16 hoor ons dat ons nie moet skaam wees as ons ly as Christene nie. In sulke tye moet ons God juis loof dat ons sy Naam mag dra! Die derde gebod word dus reg uitgeleef wanneer ons as gelowiges dag vir dag kies om ons Heer se mooi en groot Naam in ere te hou deur ons ganse lewe. Ons is die vlagdraers vir die Naam van die Here. Eers as ons dit regkry, verdien ons die reg om met buitestaanders hieroor te praat. Tom Peters skryf iewers: “Celebrate what you want to see more of.” Toe dink ek dadelik aan al die feesdae wat Moses vir Israel ingestel het om hulle te herinner aan God se groot reddingsdade. Hulle feeste moes die normale roetine van werk deurbreek. Alles moes dan tot stilstand kom. Feestye is vroeg reeds diep in Israel se geheue ingeskryf as spesiale tye in die Here se teenwoordigheid.
Die vroeë kerk het hierdie ritme van feesviering voortgesit deur gereeld saam te eet in die teenwoordigheid van Christus as hulle Eregas. Hulle het sy dood en opstanding gereeld saam gevier tydens hulle liefdesmaaltye (Judas 12), of die ete van die Here (1 Korintiërs 11:20). Van huis tot huis het hulle koningskos geëet deur saam brood te breek (Handelinge 2:46-47). Lukas vertel vir ons hulle het dit in eenvoud en opregtheid gedoen. Die manier hoe die eerste Christene saam feesgevier het, het hulle geloof magneties en aantreklik gemaak. Hulle getuienis was geleë in die maniere hoe hulle vreugdevol saam met die Here en mekaar gekuier en geleef het. Te midde van die treurmares van swaarkry, hooploosheid en armoede hier in ons eie dag, word die Here se mense opnuut genooi na ‘n spesiale fees. Jy ook. Dit is ‘n fees saam met Jesus. Hy is die Een aan wie alle mag in hemel en op aarde behoort. Hy het vir ons ‘n ewige feesmaal aangelê in sy Vader se huis. Maar hier en nou wil Hy brood breek saam met ons. Hy kan nie wag vir eendag nie. Trek asseblief jou feesklere aan. Gooi reukolie op jou hare. Nooi jou vriende en familie. Wink die armes, kreupeles, lammes en blindes van Lukas 14 nader. Dek die tafel. Kom sit aan saam met die Koning! Nie net ‘n houtkruis wat stof opgaar nie “Die enigste teken van Christus in ons huis is ‘n houtkruis teen ‘n muur. Vir die res gaan dit net oor ons eie belange,” sê iemand. Toe onthou ek dat ‘n jongmens eenkeer gesê het al wat sy van Jesus in haar kerk ervaar, is ‘n kruis teen een van die mure. “Maar,” het sy bygevoeg, “dit gaar ook maar stof op saam met die ander kerkmeubels.”
Gelukkig is daar ander verhale ook. Jesus beweeg elke dag tussen ons rond. Verlede Sondagaand het ek Hom helder raakgesien toe ‘n jongmeisie al die sakgeld wat sy opgespaar het na kerk in my hande kom druk om vir die armes te gaan uitdeel. Ek wou nog met haar praat, toe verdwyn sy woordeloos tussen die mense. Of in ‘n ou tannie wat slegs ‘n staatspensioen kry en wat R100 van die R200 wat sy by haar kleinkinders gekry het weggegee het aan een van ons bedienings om vir die Here dankie te sê. Ek sien Jesus gereeld langs die lewenspaaie. In die gevangenis en op siekbeddens, asook in oorvol staatshospitale hoor ek sy voetval. Jesus is te sien tussen armes en rykes, oud en jonk, ja, tussen almal op die markpleine van die lewe. Hy bring gedurig vir ons sy geskenke van lewe en hoop! Dagblaaie, supermarkte en restaurante het min of meer een ding in gemeen: hulle hou van die woorde “vars” of “nuut.” Die jongste nuus moet elke oggend kraakvars op straat beskikbaar wees in die koerant. Kos moet daagliks vars en aantreklik in supermarkte en restaurante uitgestal word. O ja, klere en mense moet ook vars wees! Wanneer die vervaldatum verstryk het op enige produk, verdwyn dit blitsvinnig van die winkels se rakke af. Dieselfde gebeur met koerante. Gister se koerant is vandag se ou nuus. Dit deug net as toedraaipapier vir breekbare items. Wel, hier’s nog ‘n brokkie goeie nuus — God werk ook met vervaldatums. Die jongste nuusflits oor God in Klaagliedere 3:21-22 is dat sy ontferming elke oggend nuut is. Sy goedheid is so vars soos vandag. Gister is oor en verby. Vandag is God se nuwe genadedag. Dit is sy groot dag vir ontferming. Moet dus nie een oomblik langer by gister of eergister uitkamp nie. Dit is agter die rug. Goeie herinnerings van gister en eergister mag en moet jou wel vandag nog bybly. Maar jy moet hier en nou leef met die hemelse manna wat God vandag vir jou uitgedeel het. Mag ek begin met ‘n stukkie goeie nuus wat verlede week verskyn het in die klein kolom wat ek van Dinsdae tot Vrydae in die dagblad Beeld skryf: “In ‘n bekende kinderverhaal sê die koningin vir Alice in Wonderland: “It takes all the running you can do, to keep in the same place. If you want to get somewhere else, you must at least run twice as fast as that!” Ons almal hardloop so al wat ons kan net om op een plek te bly stilstaan. Ek lees onlangs in ‘n tydskrif vir fietsryers dat die gemiddelde fietsryer meer as 60% ekstra krag moet insit om 20% vinniger te ry. Harde werk vir min resultate! Maar dis hoe die lewe is... so ook ons geloofsroete. As geloof maklik was, het almal geglo. As vasbyt op die Here se pad die in-ding was, dan het almal vasgebyt. Tog is die vreugde eindeloos groot vir daardie klein groepie wat wel volhard op God se pad.”
Hoe ouer ek word, hoe meer word dit vir my duidelik dat ‘n lewe op Jesus se pad twee basiese kenmerke het — vreugde en moeilikheid. Beide hoort tot die ABC en die XYZ van geloof. Dit is nie ‘n gelykpad nie, maar dis ‘n pad waar God se Gees permanent saamloop. Nooit is ons aan onsself oorgelaat nie. Al waai die wind van voor af, en al is die pad styl en gevaarlik, daar is altyd ‘n Gids op die pad. Nie net enige Gids nie, nee, die Here van vreugde Self is saam met ons. Daarom dat ons lig kan reis — met ligte harte en vreugde op ons gesig. Loop agter Hom aan In daardie klassieke film, The Wizard of Oz, word die hoofkarakter Dorothy, en haar hond Toto, deur ‘n tornado weggewaai. As sy later iewers grondvat, sê sy: “Toto, I’ve a feeling we’re not in Kansas anymore.” Ek wonder hoeveel van ons voel ook asof ‘n tornado ons weggewaai het van bekende terrein af. Alles is deesdae anders. Niks is meer vas, veilig of voorspelbaar nie. Dit voel of die lewe buite beheer geraak het. Bo is onder en onder is onderstebo. Om nie eers te praat van agter wat skielik agterstevoor is nie.
Wel, hier’s ‘n nuusflits: vandag se wêreld is deurmekaar. Dit is plek-plek buite beheer. Die oplossing is nie om dit te ontken, of kunsmatig onder beheer te probeer bring nie. Kies eerder om midde in die storms wat rondom jou, en soms ook binne-in jou woed, agter Jesus aan te stap. Hy floreer in storms. Veilige hawens is nie sy skuilplek nie. Hy is Lig in die donker. Hy bied hoop te midde van wanhoop. As jy naby aan Jesus loop, is jy op koers, selfs al is dit donker en gevaarlik rondom jou. Vrede Marcel Proust sê die eintlike ontdekkingsreise van die lewe gaan nie oor die ontdekking van nuwe landskappe nie, maar oor die ontdekking van splinternuwe oë. Ontdekkingsreisigers wat nuwe wêrelde ontdek is diegene wat geleer het om met ander oë na die lewe te kyk. Lyk my, ons kort sulke oë. Christus het goeie raad vir ons. Hy raai ons aan, saam met die gemeente van Laodisea daar in Openbaring 3, om oogsalf by Hom te kry. Dan bekyk ons mense skielik uit ‘n ander hoek. Dan is ander mense nie langer treinspore oor wie ons ry nie, maar haltes by wie ons stilhou met bekertjies genade.
Dit herinner my aan die verhaaltjie van ‘n priester wat homself vir weke gaan afsonder het in gebed. Met sy terugkeer was iemand in sy gemeenskap ongelukkig. “Terwyl jy eenkant gebid het, moes ons almal baie hard werk,” sê hy. “Om alles te kroon lyk jy nie juis anders nie.” Toe antwoord die priester: “Maar jy lyk anders!” Bedoelende, hy het in sy eenkant tyd geleer om ander mense deur die bril van Christus se goedheid te sien. Ons gebede verander onsself. Dit laat ons anders kyk, sien, voel, praat en glo. Ek wens soms ek kon makliker glo, soos daardie tannie wat nou die dag sê sy twyfel nooit. Of dalk nie... Dalk wil ek juis nie so glo nie. Om te glo sonder om ooit te worstel met die groot vrae van die lewe, is ‘n geloof wat in motbolle verpak is. (Onthou jy — in die ou dae het ons sulke giftige klein balletjies in ons hangkaste gebêre sodat die vismotte nie gate in ons truie vreet nie. My wintersklere het altyd aan die begin van die somer na formalien of so iets geruik.) Om een of ander rede dink ek aan motbolle as ek hoor van “super-Christene” wie se geloof soos daardie “before-and-after” advertensies klink. Vroeër was alles net sleg in hulle lewe, maar nou sweef hulle op ‘n wolk van nimmereindigende oorwinnings.
Wanneer mense se getuienisse net bestrooid is met deurbrake, gebedsverhorings, seëninge en oorwinnings, dan voel ek uit my diepte. Geloof hier aan my kant van die draad is ‘n daaglikse stryd. Elke dag moet ek van voor af kies om op Jesus se pad te loop en sy kruis te dra. Daagliks is daar enigiets vanaf oorwinnings, struikelings, deurbrake en toe-deure op my pad. Daagliks is daar ook teleurstellings en vreugde. Partykeer wil ek my kop in skaamte laat sak dat ek die naam Christen dra. Ander kere wil ek van die bergtoppe af uitskree dat Hy Heer is. Nooit word die pad juis makliker nie. Tog wil ek met alles in my verder stap saam met Jesus. Ek wil niks anders doen as om Jesus enduit, en as dit moet: dieper die storms in, te volg nie. Hy trek my magneties nader deur sy Gees. Saam met Paulus wil ek tussen my teenslae en klein oorwinnings deur uitroep: “Vir my is om te lewe gelyk aan Christus!” |
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|