Deel (1)
Die Israeliete is beveel om nie enige gesnede beeld van God te maak nie. Hoekom? God het ons gemaak, nie andersom nie. As jy 'n god kan maak, kan jy hom beveel en forseer om te doen net wat jy wil hê hy moet doen. Die antieke Grieke het baie gode gehad wat almal deur mense gemaak is. Party het menslike offerande vereis en ander het selfs prostitusie in hulle tempels aangemoedig. As ons God volgens ons eie verbeelding skets, kry ons die volgende dinge: 1) 'n God wat liberaal of konserwatief is. 'n God wat politici elke keer met 'n verkiesing gebruik om stemme te werf al dien hulle hom nie regtig nie. 2) 'n Buigsame god wat jou toelaat om te doen net wat jy wil en dan kan jy sê: "Ek het gelei gevoel om dit te doen." 3) 'n God wat belowe om Sy kinders te seën sonder om hulle te dissiplineer. 4) 'n God wat jy op sy plek kan hou totdat jy hom nodig het. 5) 'n God wat tevrede is daarmee om een van baie gode te wees wat almal 'n ander manier bied om in die hemel te kom. O nee! Die Here sê: "Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie." (Jes. 43:11 NV). Jesus het gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." (Joh. 14:6 NV). Jesus hoef nie in te pas by alles in die kontemporêre wêreld nie. Hy is Koning, en Hy heers oor alles en almal. Sielekos: 2 Kron. 25-28; Luk 17:11-19; Ps 119:129-136; Spr. 22:8-10 Deel (2) In 'n wêreld wat buite beheer is, sal ons hou van 'n god wat ons kan beheer: iemand wat ons kan seën, in ons behoeftes kan voorsien en vir ons raad kan gee. Amper soos 'n god in 'n boksie. Maar as dit by Christus kom, werk geen boksie nie. Sy tydgenote het Hom in verskeie boksies probeer plaas, maar Hy het nie in een van hulle gepas nie. Hulle het Hom 'n oproermaker genoem, maar Hy het belasting betaal. Hulle het Hom 'n skrynwerker genoem, maar Hy het geleerdes verwar. Hy was 'n Jood wat heidene na Hom toe aangetrek het; 'n Rabbi wat opgegee het op sinagoges; 'n Heilige Man wat met prostitute gepraat het. Hy het gepraat soos 'n koning, maar gelewe soos 'n pelgrim. Ons kan Jesus ook nie inperk deur Hom te probeer definieer nie. "Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Here ken, het werklik insig." (Spr. 9:7 NV). Die meeste van ons vrese is ongesond. Hulle weerhou ons van vrede en blydskap. Om die Here te vrees, het egter die teenoorgestelde uitwerking. 'n Skrywer sê: "Daar niks neuroties daaraan om God te vrees nie. Die neurotiese optrede is om nie bang te wees nie, of om vir die verkeerde ding bang te wees. Dis hoekom God Homself aan ons bekend maak; sodat ons kan ophou om vir die verkeerde ding bang te wees. Wanneer ons verstaan wat God wil hê ons moet verstaan, ervaar ons 'n verandering in ons vrese. 'n Vrees vir God is 'n nederige besef dat ons nie God is nie." Sielekos: 2 Kron. 29-31; Luk 17:20-37; Ps 119:137-144; Spr. 22:11-13 Deel (3) Op die Berg van Verheerliking het Moses, die wetgewer, en Elia, wat die profete verteenwoordig, langs Jesus gestaan. Maar Jesus het hulle in heerlikheid oortref. Die Bybel sê: "... Sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie." (Mark 9:3 NV). Op daardie oomblik was Jesus God in Sy suiwerste vorm. Petrus het met ontsag gesê: "As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia." (Matt 17:4 NV). Dit was 'n opregte sentiment, maar dit was opreg verkeerd. "Terwyl hy nog praat, het 'n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en 'n stem uit die wolk het gesê: 'Dit is My geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.'" (Matt. 17:5 NV). Die woord "geliefde" dui op die woord "uniek". Daar is niemand soos Jesus nie! Nie Moses of Elia of Petrus of Zoroaster of Boeddha of Mohammed nie. Niemand in die hemel of op die aarde nie. Drie hutte sou Moses en Elia op gelyke voet met Christus gebring het, en dit was onaanvaarbaar vir God. "Toe Sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval." (Matt 17:6 NV). Jesus se heerlikheid het hul asems weggeslaan, alle hoogmoed uit hulle verwyder en hulle nederig gemaak. Wanneer laas het jy sulke eerbied voor die Here ervaar? Sielekos: 2 Kron. 32-34; Luk 18:1-17; Ps 119:145-160; Spr. 22:14-16 Deel (4) Die Bybel vergelyk God met lig, en lig met heiligheid. "God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie." (1 Joh. 1:5 NV). Paulus het gesê dat God in "ontoeganklike lig" woon (1 Tim 6:16 NV). Die Bybel verwys ook na Christus wat "... heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele..." (Heb. 7:26 NV). Hoe moet jy so 'n God benader? Soos 'n diktator wat lewe en dood in sy hande hou? Nee. Jesus het vir ons gesê om te bid: "Ons Vader wat in die hemel is, laat U Naam geheilig word..." (Matt 6:9 NV). Dis die antwoord. Jy moet na God toe kom soos 'n pa wat jou liefhet en net die beste vir jou wil hê, terwyl jy aan Hom diepe eerbied bewys. Soos jou eerbied vir God groter word, sal jou vrese minder raak. As jy groot ontsag vir die Here het, sal jy baie moed hê. As jy min ontsag vir Hom het, sal jou moed in jou skoene sak. 'n Nietige god kan jou nie help as jy met kanker gediagnoseer word of as jy nie jou rekeninge kan betaal nie. Jy het 'n ontsagwekkende God nodig. Een wat jou ego verklein en jou geloof vergroot. Dawid het geskryf: "Ek wil die Here loof en nie een van Sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon..." (Ps 103: 2-5 NV). Sielekos: 2 Kron. 35-36+ 2 Joh; Luk 18:18-30; Ps 119:161-168; Spr. 22:17-19 Deel (5) Ons almal moet 'n ontmoeting met die verheerlikte Jesus hê; die Een wat groter is as Moses, Elia, en al die ander profete wat al ooit gelewe het. Die Een wat die kroon van die heelal dra en God se geliefde Seun is. Ons moet nederig voor Hom neerval en Hom sien as die Heilige Een, die Hoogste Een, die Enigste Een. As ons dit doen, sal al ons vrese, behalwe ons vrees vir Hom, wegsmelt soos 'n ysblokkie op 'n warm dag. Jy sal met Dawid saamstem: "Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?" (Ps 27:1 NV). In die boek Prince Caspian word dit mooi geïllustreer. Lucy sien vir Aslan, die leeu, vir die eerste keer na baie jare. Hy was baie groter as wat hy was met hulle vorige ontmoeting, en sy sê dit ook vir hom. Hy antwoord: "Ek is groter omdat jy ouer geword het. Lucy vra: "Nie omdat jy ouer is nie?" Hy antwoord: "Ek is nie groter nie, maar elke jaar groei jy en kom jy agter dat ek veel groter is." Jou reis saam met Christus is net so. Hoe langer jy Hom dien, hoe groter word Hy. Dis nie Hy wat verander nie, maar ons sien dimensies, aspekte en eienskappe van Hom wat ons nooit voorheen gesien het nie. Ons word weer bewus van Sy reinheid, mag en uniekheid. Wanneer ons voor Sy voete neergeval en ons afhanklikheid van Hom verklaar het, sal Jesus vir ons ook sê wat Hy vir Sy dissipels gesê het: "Staan op en moenie bang wees nie." (Matt 17:7 NV). Sielekos: 3 Joh+ Judas; Luk 18:18-30; Ps 119:161-168; Spr. 22:17-19 Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|