Geestelike oorlogvoering (Deel1)
Wanneer 'n aanval in Bybelse tye op 'n stad geloods is, was dit die gebruik om 'n stormram te gebruik, die hekke te vernietig en die inwoners te verslaan. Vandag is jy in 'n oorlog gewikkel met satan! Oorwinning is slegs moontlik as jy dít erken. Die goeie nuus is: "Die wapens van ons stryd... [kan] vestings... vernietig." "Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee..." (Ef 6:11 NV). Dis nie iets wat jy aantrek wanneer jy lus kry nie. Satan wil hê jy moet dink hy is gelyk aan God. Hy is nie! God is almagtig, alwetend en alomteenwoordig; Hy kan enigiets doen, op enige plek en op enige tyd. Satan is wel 'n gedugte teenstander, maar dit wat hy toegelaat word om te doen is beperk (Job 1:12). Jou gedagtes is die beheerkamer; dít is waar oorwinning of nederlaag bepaal word. Paulus het vir die Korintiërs gesê: "Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word..." (2 Kor 11:3 NV). Satan weet Christus se terugkeer is om die draai en hy is besig om die opposisie te versterk (Opb 12:12). 'n Mens wen die stryd deur:
Sielekos: Rom 7:1 - 9:16; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 29:19-22 Geestelike oorlogvoering (Deel 2) Toe die eerste vliegtuig die Wêreldhandelsentrum in September 2001 getref het, het ons gedink dit was 'n ongeluk. Toe nog 'n vliegtuig tref, het ons geweet New York word aangeval. Dr Robert Jeffress sê: "Dis uiters belangrik om te weet wat die oorsprong van die probleem is... 'n navigasiefout vra 'n sekere reaksie. 'n Vyandige aanslag vereis 'n heeltemal ander strategie. Elke dag word ons wêreld ingeneem deur dinge wat ons reken toevallige gebeure is. Paartjies skei, daarom ontwikkel ons huweliksberading; kerke dreig om te skeur, daarom stel ons bemiddelaars aan om met konflikhantering te help; Christene sukkel met depressie en selfmoordgedagtes, daarom stop ons hulle die nuutste medikasie in. Verstaan my mooi, ek is nie teen sulke programme gekant nie, maar wat as al hierdie dinge meer as toevallige gebeure is en ons deur die vyand aangeval word? In die Skrif ontdek ons daar is 'n onsigbare wêreld wat in 'n oorlog gewikkel is. Paulus skryf: 'Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen... elke bose gees in die lug.' Jy leef in die spervuur van hierdie geestelike oorlog... die vyand is vasberade om alles en almal wat vir jou belangrik is, te vernietig. En as jy dink Paulus oordryf, is dit tot jou eie nadeel." Martin Lloyd-Jones het gesê: "As jy nie besef dat jy in 'n stryd gewikkel is nie, beteken dit jy is hopeloos oorwin en jy weet dit nie eers nie. Jy moet bewus wees van wat aan die gang is en bereid wees om te baklei." Sielekos: Rom 9:17 - 11:36; Joh 10:22-42; Ps 83:9-18; Spr 29:23-27 Geestelike oorlogvoering (Deel 3) Dis belangrik om te weet wanneer jy aangeval word - en wanneer nie. Een skrywer sê: "Daar is 'n geneigdheid onder Christene om enigiets onaangenaams in hul lewens as geestelike oorlogvoering te sien, eerder as om te erken dat hulle besig is om te maai wat hulle gesaai het. As jy jou rol as die geestelike opvoeder van jou kinders byvoorbeeld afgeskeep het, kan die Here toelaat dat hulle in 'n sondige leefstyl beland. 'Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is.' God se dissipline sal jou nie help as jy dit afmaak as satan se toedoen nie. As jy verkeerd verstaan, mag jy dalk die Here blameer omdat Hy nie jou gebede beantwoord het nie of jou nie beskerm het nie, en intussen is Hy besig om jou oor gevaar te waarsku." "... julle [is] 'n kort tydjie bedroef gemaak... deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word." (1 Pet 1:6-7 NV). 'n Ystersmid met 'n stuk metaal op sy aambeeld het 'n idee van wat hy wil hê. Maar dit beteken hy moet die ou metaal smelt, oorgiet, letsels verwyder, krake regmaak, gate opvul en onsuiwerhede skoonmaak totdat iets wat nutteloos was waardevol word. Max Lucado sê: "'n Instrument is net nuttig as dit die regte vorm het... 'n Goeie ystersmid hou sy gereedskap in 'n goeie toestand... En God ook. As Hy jou op Sy aambeeld sit, moet jy bly wees Hy dink jy is die moeite werd om aan te skaaf." Sielekos: Rom 12-14; Joh 11:1-16; Ps 4; Spr 30:1-4 Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|