Vir meer as vier dekades reeds vind mense met gestremdhede ‘n veilige hawe in die L’Arche gemeenskappe wat Jean Vanier gestig het. Sy wêreldwye impak is legendaries. Toe hy in ‘n onderhoud gevra is of hy dink hulle verander die wêreld, was sy antwoord: “What can these little communities do? ... if they think they are going to change the world, they will be in a power game.” Hy sê toe dat dit slegs hulle roeping is om Goddelike liefde te weerkaats deur in harmonie saam te leef. Hierdie woorde, wat ek op Tom Smith se blog gelees het, het my behoorlik laat dink. So maklik kan ons goedbedoelde idees om die wêreld te verander deel van ‘n magspel word. Dan verskuif die fokus spoedig na ons planne en suksesse.
Dit is ons vernaamste roeping om Christus te verheerlik, al verander niks of niemand rondom ons nie. Ons is sy lewensgeur en aroma, al ruik ander die dood (2 Kor 2:14-17). Eers as ons dit begryp, sal ons uit die pad staan en geen suksesse vir onsself toe-eien as die Here werk nie. Dan verstaan ons Hy werk eintlik ten spyte van onsself en nie as gevolg van onsself nie.