Wie moet die skuld kry? (1)
Ons raak al hoe meer 'n skuldgeoriënteerde kultuur. Vandag word ons teëspoed beskou as iemand anders se skuld. En dit het nie by ons begin nie. Dit gaan terug na Adam toe waar hy in die Tuin van Eden vir God gesê het: "Die vrou wat U my gegee het... sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet." (Gen 3:12 NV). Dit is in ons DNS! Ons sê die ineenstorting van ons huwelik was ons lewensmaat se skuld, of ons drink te veel omdat iemand ons daartoe dryf. Die verskuiwing van verantwoordelikheid kan skuld kortstondig verlig, maar dit is 'n dodelike spel met geen wenners nie. In Christus se vonnisoplegging, sê Pilatus: "Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid." Hy het gedink deur die blaam op die Jode te pak, sou hy dit kon vermy om sy vrou of sy kritici te ontstel en homself onskuldig bewys. Hy moes egter pa staan daarvoor. Jy moet verstaan dat God jou verantwoordelik hou vir jou besluite en optredes. "Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade." (Rom 2:6 NV). As jy versuim om die regte besluit te neem, of reg op te tree, verdien jy Sy skuldigbevinding. Paulus skryf: "God laat nie met Hom spot nie: Wat mense saai, sal hulle ook maai!" (Gal 6:7 NLV). Ander kan dalk skuldig wees deur jou aanstoot te gee, en dit is hulle oes om in te samel. Maar jou oes hang af van jou reaksies. Deur jou verantwoordelikheid voor God te aanvaar, verlig jy jou skuld, moedeloosheid en stres. Sielskos: Matt 5:7; Matt 18:21-35; Ps 103:8-18; Klaagl. 3:22-24 Wie moet die skuld kry? (2) Dit was natuurlik vir Adam en Eva om iemand anders die skuld te gee. Wie sou in elk geval vir hulle die skuld kon gee? God het! Hulle skuld was die gevolg van hoe sonde hulle verander het. Hulle verhouding met hulself, met mekaar, met hul omgewing en selfs met God is verander deur hul onverantwoordelikheid. Aangesien God niks kan doen met mense wat nie verantwoordelikheid neem vir hul besluite nie, het Hy hulle uit die Paradys uitgejaag. Hier is twee goeie redes om op te hou om ander die skuld te gee: 1) Dit maak van jou 'n slagoffer. Wanneer jy ander mense verantwoordelik maak vir jou omstandighede, plaas jy die mag van verandering in hulle hande. Jy kan die mag om jou omstandighede te verander, slegs behou as jy persoonlike verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. 2) Dit laat jou ellendig voel. Jy sê: "Maar hulle maak my seer." Ja, en deur 'n wrok te koester, maak jy jouself oor en oor seer. Die Bybel sê: "As daar iets... gebeur wat mense ongelukkig en kwaad maak vir mekaar, moet dit met wortel en tak uitgeroei word. As dit nie gedoen word nie, word dit soos 'n giftige plant wat uiteindelik baie mense seermaak." (Heb. 12:15 DB). "Sorg dat niemand... hulle rug vir God draai soos Esau gedoen het nie... Later wou hy sy reg as oudste seun terughê... Maar die Here wou nie. Al het hy lang trane gehuil, kon hy niks aan die situasie verander nie." (Heb. 12:16-17 DB). Vergewe, neem jou lewe terug, en staak die spel van skuld! Sielskos: 1 Sam 24-26; Luk 5:27-39; Ps 110; Spr. 17:15-17 Wie moet die skuld kry? (3) Om die skuld vir iemand anders te gee, skep vyande. Die persoon vir wie jy die skuld gee, sal jou ignoreer en verkwalik. Haar vriende sal haar verdedig en jou vyande word. Selfs jou eie vriende sal keelvol word en hulself van jou distansieer. Jou "verbittering [sal] soos 'n wortel" uitspruit en "baie besmet" (Heb. 12:15 NV). Mense wat vir ander die skuld gee, het 'n invloed op die mense om hulle. Jou familie word betrek en ly dan ook daaronder. "Moenie vriende maak met 'n humeurige mens nie... Jy moenie dalk sy maniere by hom aanleer nie. Dit sal die oorsaak word van jou eie ondergang." (Spr. 22:24-25 NLV). Hou op, want jy dra jou ellende en wangedrag oor aan diegene wat jy liefhet! 'n Mens kan verslaaf raak daaraan om ander te blameer. Dit laat ons voel dis in orde om verantwoordelikheid te verskuif. Dit raak toenemend makliker om eerder te kla as om die probleem op te los. Vergifnis word gesaboteer as jy ander blameer. Jy kan nie iemand vergewe terwyl daardie persoon oordeel en kwalik neem nie. Terwyl jy jou tyd en energie vermors om haar die skuld te gee, verbeur jy jou reg om God se vergifnis te ontvang. "Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie." (Matt 6:15 NV). Dis tyd om op te hou om ander die skuld te gee, verantwoordelikheid vir jou eie lewe te neem, en jou Godgegewe vermoë te gebruik om volgens Sy Woord te reageer! Sielskos: 1 Sam 27-31; Luk 6:1-16; Ps 122; Spr. 17:18-21 Comments are closed.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|